Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Tshwane se afdeling vir Gemeenskaps- en Maatskaplike Ontwikkeling het die jongste insluiting van Suid-Afrikaanse terreine vir bevryding en menseregte as UNESCO Wêrelderfenisgebiede verwelkom. Dit sluit die Uniegebou en Konstitusieheuwel in. Die afdeling sê die insluiting is belangrik omdat dié terreine wetlik deur internasionale verdrae beskerm en erken word as belangrik vir die hele mensdom. Hy sê die terreine het kulturele en geskiedkundige waarde.
# Die Universiteit van Fort Hare neem deel aan ‘n nuwe wêreldwye navorsingsprojek om maniere te vind om Parkinson se siekte te voorkom. Die siekte is die tweede algemeenste neuro-afbrekende siekte ter wêreld en raak sowat 6,3-miljoen mense. Christopher Cupido van die universiteit stel saam met internasionale navorsers ondersoek in na die moontlike gebruik van die sambreelblom wat ‘n bestanddeel bevat waaruit ‘n nuwe middel teen Parkinson se siekte ontwikkel kan word. Dit is die eerste navorsing ter wêreld oor dié plant.
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het ‘n nuwe Safe Space-skuiling met 300 beddens geopen om haweloses van die strate te kry. Die skuiling, wat op ʼn deel van die munisipale depot in Ebenezer-weg in Groenpunt geleë is, is die vyfde veilige skuiling wat die stad open. Die skuilings het nou altesaam een-duisend-en-70 beddens. Hill-Lewis sê die veilige ruimtes wat deur die stad befonds word, bied waardige oorgangskuiling en maatskaplike programme om mense volhoubaar van die strate te kry en weer by die samelewing in te sluit:
# Fezile Wagner wat aan die hoof staan van Wits-universiteit se Analitiese en Institusionele Navorsingseenheid, is ʼn finalis in die Hoëronderwys-navorsingsdienste-toekennings se kategorie vir jong, opkomende vroueleiers. Dit gee erkenning aan jong vroue wie se loopbane ʼn belowende en invloedryke toekoms in die sektor toon. Wits se visekanselier, professor Zeblon Vilakazi, sê Wagner blink uit in elke taak wat sy aanpak. Die toekenningsgeleentheid vind op 29 Augustus in Kaapstad plaas.
# Die Universiteit van Kaapstad het ʼn speletjietoepassing ontwikkel om die manier te verander waarop regstudente met die regsproses te doen kry. Die toepassing, Pass a Bill, is tans beskikbaar aan voorgraadse studente in Grondwetlike Reg. Die universiteit sê die toepassing, onder leiding van medeprofessor Cathleen Powell, daag studente uit om ʼn wetsontwerp deur die ingewikkelde prosesse van wetgewers se goedkeuring te navigeer, en kritieke besluite te neem wat op beskikbare inligting gegrond is. Powell sê hulle wil ʼn leerinstrument skep wat studente betrek op maniere wat tradisionele metodes nie doen nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….