Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Amerika se grootste musiekskool-konsessie, School of Rock, open in November in Johannesburg. Die skool bied programme vir alle ouderdomme aan, insluitend optrede-gebaseerde onderrig, groepsklasse en privaat lesse. Dit sluit lesse in vir instrumente soos kitare, baskitare, tromme en sang, asook musiekproduksie. Die konsessiehouer en eienaar, Russell Lund, sê hulle wil ‘n prettige, inklusiewe omgewing vir studente skep en ʼn positiewe verandering in die gemeenskap bring. Voornemende studente kan reeds aansoek doen by www.parktownnorth.schoolofrock.com.
# ‘n Professor van die Noordwes-Universiteit, Olubukola Oluranti Babalola, en ‘n student, Sinenhlanhla Mthembu, is finaliste in die 2024 Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekennings. Die toekennings gee erkenning aan voortreflike bydraes van vroue in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Babalola is alombekend vir haar deurbraak-navorsing oor plantmikrobe-interaksies wat verreikende gevolge vir volhoubare landbou en voedselsekerheid het. Mthembu is tans betrokke by Tipe-2-diabetes- en kardiovaskulêre navorsing. Die toekennings word op die 15de van volgende maand in Mpumalanga uitgedeel.
# Die Universiteit van Fort Hare werk saam met die Onderwys, Opleiding en Ontwikkelingspraktyksektor Onderwys- en Opleidingsowerheid om studente met min befondsing se finansiële las te verlig. Twee-en-sewentig studente sal vir twee maande elk ʼn toelaag van twee-duisend-rand ontvang. Die universiteit se waarnemende dekaan van onderwys, Mzuyanda Mavuso, sê onderwys verander lewens en dis ʼn groot voorreg om in die toekoms te belê.
# Die sewende jaarlikse Creative Coffee Week word tot môre in Durban gehou. Dit word in FNB se Acacia House in Umhlanga Ridge aangebied en verwelkom Patrik Rolf van Denemarke se April Coffee, ‘n viermalige wêreldfinalis as ‘n koffieroosterkenner, ‘n barista en ‘n beroemde voorspraakmaker in die koffiewêreld. Top koffieberoepslui, wat baristas en mense wat koffie rooster insluit, sal wêreldtendense bespreek en meeding in die eerste April Brewers Cup in Suid-Afrika. Dit steun die koffiesektor se groei en werkskepping dwarsoor die waardeketting.
# En ten slotte: Die Suider-Afrikaanse Katraad se Kat van die Jaar-kompetisie gaan vanjaar 20 kat-rasse tentoonstel. Ses beoordelaars gaan die wenners in die verskillende kategorieë kies, soos Kat van die Jaar, Babakatjie van die Jaar en Gesinstroeteldier van die Jaar. Die internasionale beoordelaars vir die kompetisie sluit in Jane Allen en Phillipa Holmes van Brittanje. Die kompetisie word Saterdag in die Radisson Blu-hotel in die Kaapstadse Waterkant gehou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….