Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrika is aangewys as die derde beste Afrikaland om met kinders te besoek. ‘n Studie deur die toeroperateur, Go2Africa, sê die land het ʼn goed ontwikkelde toerisme-infrastruktuur en word beskou as ‘n veilige reisbestemming vir gesinne. Die Seychelle is die kinder-vriendelikste land in Afrika en die wêreld. Dit spog met die gesins-vriendelikste hotelle, besienswaardighede en restaurante wat dit die voorkeur-reisbestemming vir ouers maak. Marokko is tweede in Afrika met Namibië en Madagaskar onderskeidelik vierde en vyfde.
# Dowe leerders oral in die land kan deur die Universiteit van Stellenbosch se Handlab toegang kry tot noodsaaklike studiehulpmateriaal wat by hulle behoeftes aangepas is. Die projek, wat aanvanklik tussen 2010 en 2012 vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement ontwikkel is, is gemik op die ontwikkeling van ‘n leerplan spesifiek vir dowe leerders. Handlab se projek strek nou wyer as die Wes-Kaap en al 40 skole vir dowes in die land trek voordeel daaruit. Die projekkoördineerder, Vanessa Reyneke, sê die sukses lê in die aanpasbaarheid, met inagneming van die dialektiese verskille in gebaretaal.
# Die Body Stress Release-stigting ondersteun kinders met spesiale behoeftes uit minderbevoorregte gemeenskappe deur spanning te verlig en beweeglikheid te verbeter. Die tegniek wat spanning in die liggaam verminder, help mense om fisiese en emosionele spanning te verwerk en ongemak en pyn te verlig. Die stigting doen maandeliks uitreik-aksies in Kaapstad en twee keer per jaar besoek hulle die Khwezi Lokusa Special Needs School in Mthatha in die Oos-Kaap. Hulle besoek ook mense in Zambië.
# Die Universiteit van die Witwatersrand se Kunsskool-studente in die Rolprent- en TV-departement gaan voordeel trek uit ‘n Netflix Creative Equity-toekenning. Dit sal gebruik word om skeppende digitale infrastruktuur in die departement te skep en sal aan studente moderne toerusting verskaf vir hulle studies en skeppende werk. Allison Triegaardt van Netflix sê hulle belê nie net in die uitbreiding van plaaslike rolprente en reekse nie, maar wil ook steeds in programme belê om gelyke toegang tot opleiding vir die toekomstige geslag storievertellers te bied.
# En ten slotte: Die 82-jarige Lumka Koyana het haar eerste boek, Good, Bitter, Best, bekendgestel. Sy was getroud met ʼn gewese dosent in Romeinse Reg aan die Universiteit van Fort Hare, wyle Beresford Svatho Koyana. Die boek is 25 jaar gelede na haar aftrede geskryf. Sy vertel daarin van haar grootouers wat haar in Healdtown grootgemaak het, haar reis na verpleging, haar loopbaanverandering na die onderwys en die uitdagings toe sy op 33 ʼn weduwee word. Koyana sê sy het die boek geskryf om enkel-ma’s, weduwees en jong beroepspersone te inspireer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….