Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Ezemvelo KZN Wildlewe berig ‘n aansienlike daling in renosterstroping sedert daar in in April met ‘n onthoring-veldtog begin is. Voorheen is 30 tot 40 renosters maandeliks gestroop, maar dit het afgeneem tot gemiddeld vyf per maand vir Mei tot Julie. Woordvoerder Musa Mntambo sê Ezemvelo het begin met die oprigting van ‘n nuwe slimheining by die Hluhluwe-iMfolozi-park om renosterstroping te bekamp. Hy sê die bewaringsliggaam neem ook heining-wagte uit plaaslike gemeenskappe in diens om daagliks die grensheinings te patrolleer en enige skade te herstel.
# Die Universiteit van Pretoria sê 38 organisasies het tot dusver meer as 15-miljoen-rand aan sy Giving Matters-veldtog geskenk. Die veldtog samel geld in vir studente wat nie vir die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente kwalifiseer nie. Die veldtog is in 2022 van stapel gestuur. Daardie jaar is 31-miljoen-rand by 504 skenkers ingesamel en verlede jaar het 834 skenkers sowat 36-miljoen-rand bygedra. Die universiteit sê hy is dankbaar vir die filantropiese gees van elke skenker en student wat bygedra het.
# Milani Education is een van sewe nuutgestigte ondernemings van die Universiteit Stellenbosch wat volgende maand aan die streekronde van die Ondernemerskap-ontwikkeling in Hoër Onderwys se tussen-universitêre kompetisie gaan deelneem. Alexandra Lutz het die organisasie sonder winsbejag in 2020 van stapel gestuur. Sy is tans ‘n eerstejaarstudent in data-wetenskap aan die universiteit. Milani Education is ‘n gratis aanlyn leerplatform wat leermateriaal van die huidige leerplan vir leerders van graad agt tot 12 verskaf.
# Die Stad Kaapstad sê 27 biblioteke het onlangs koderingsgeleenthede aangebied wat 438 deelnemers van meer as 30 spanne betrek het. Twee spanne van Elsiesrivier se biblioteek is onder die top drie. Hulle gaan nou teen die beste presteerders van die ander biblioteke deelneem om te bepaal wie na die nasionale kompetisie in Oktober en die Wêreldtoernooi in Desember gaan deurdring. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê kodering het baie gewild geword:
# En ten slotte: Die koning van popmusiek, Michael Jackson, se ondertekende sketse gaan volgende maand in Los Angeles opgeveil word. King’s Auctions sê Jackson is deur talle kunsvorms beïnvloed – van klassieke werke en argitektuur tot pop-kuns en selfs formele portretstudies. Die afslae sê hy was ook baie lief vir Londense en Britse kunsstyle. Agt-en-sewentig kunswerke gaan opgeveil word. Jackson is in 2009 in die ouderdom van 50 oorlede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….