Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Vandag se PowerBall is weer net ‘n geraamde vyf-miljoen-rand nadat ‘n speler in Vrydag se trekking meer as 59-miljoen-rand gewen deur Standard Bank se banktoepassing te gebruik. Die persoon het die vyf nommers plus die PowerBall korrek gehad terwyl 20 deelnemers net meer as 35-duisend-800 gedeel het met vier korrekte nommers en die PowerBall. Vandag se PowerBall Plus sal sewe-miljoen-rand werd wees terwyl môre se Lotto-boerpot ‘n gelukkige wenner 69-miljoen-rand in die sak kan bring.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie is aan die voorpunt van ‘n omwenteling in ingenieursopleiding in Suid-Afrika. Dit is vanweë die baanbrekerswerk met hul vermoëbouprojek wat deur die Royal Academy of Engineering befonds word. Doktor Grace Kanakana-Katumba van TUT sê die opleiding rus akademici toe met vaardighede om deur middel van projekgebaseerde onderrig nywerheidsverwante modules te onwikkel vir ‘n meer praktiese aanslag in opleiding.
# Die Stad Kaapstad sê die invloed van sy entrepreneurskap-opleidingsprogram oor stedelike afvalbestuur die afgelope twee jaar, was merkwaardig. Een van die program se begunstigdes, die kleinsake-eienaar Zulfah Hartley van Athlone, het haar onderneming uitgebrei en verkoop haar produkte nou in die Canal Walk-winkelsentrum. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Afvalbestuur, Grant Twigg, sê Hartley se onderneming, Auburn Botanicals, is plantgebaseerde, natuurlike velsorgprodukte wat vroue wil help om die simptome van menopouse te verlig:
# Die beroemde Sphere in Las Vegas bied in Desember sy heel eerste elektroniese musiekfees, The End of Genesys, aan. Anyma, die verhoognaam van die Los Angeles-gebaseerde musikant en moderne kunstenaar Matteo Milleri, sal na verwagting snitte van sy albums Genesys en Genesys Two uitvoer. Hy sal Sphere se gevorderde tegnologie gebruik wat die wêreld se LED-skerm met die hoogste resolusie insluit. Die perseel van meer as 41-miljard-rand het ook vertonings van groepe soos U2, Dead and Co. en Phish aangebied.
# En ten slotte: Die bekroonde sangeres Billie Eilish is die jongste bekende wat ‘n CBeebies-slaaptydstorie voorlees. Die gewilde program op die Verenigde Koninkryk se CBeebies-kanaal stel kinders bekend aan ʼn wêreld van stories deur pragtige, interaktiewe storie-ervarings. Eilish lees This Moose Belongs to Me voor deur die skrywer en illustreerder, Oliver Jeffers. Van die ander musieksterre wat ʼn CBeebies-slaaptydstorie voorlees, is Harry Styles, Elton John, Dave Grohl, Ed Sheeran en Dolly Parton.
Bly ingeskakel vir meer nuus………..