Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Oudpresident Jacob Zuma se dogter, Nomcebo Zuma, gaan volgens berigte met koning Mswati die Derde van Eswatini trou om sy 16de vrou te word. Die 21-jarige is die dogter van Zuma en sy vyfde vrou, Nonkululeko Mhlongo. Koning Mswati se afvaardiging en senior Zulu-koninklike familielede het glo verlede week Zuma se huis in Nkandla, KwaZulu-Natal, besoek en tien beeste as lobola betaal.
Anant Ambani, die jongste seun van Asië se rykste man, Mukesh Ambani, en die farmaseutiese erfgenaam, Radhika Merchant, trou intussen vandag ná sewe maande se feesvieringe. Die paartjie vier hulle verlowing sedert Januarie met ‘n geleentheid gemiddeld elke ses weke. Die gastelys met name uit die voorste gestoeltes, sluit in Meta se uitvoerende hoof, Mark Zuckerberg, die popster Rihanna, die Bollywood-akteur Shah Rukh Khan en die realiteit-ster Kim Kardashian. Die troue vind plaas by die Jio World-konvensiesentrum in Mumbai, Indië, wat plek het vir 16-duisend mense.
# Meryl Streep het bevestig sy keer terug vir ‘n opvolg van The Devil Wears Prada. Die 75-jarige Amerikaanse Oscar-wenner gaan haar rol laat herleef as die formidabele uitvoerende redakteur van die modetydskrif Runway, Miranda Priestly. Die nuwe fliek fokus blykbaar op die einde van haar loopbaan waar sy gekonfronteer word met die einde van tradisionele tydskrifte. Emily Blunt keer ook terug nadat sy Priestly se assistent, Emily Charlton, gespeel het, maar daar is nog geen bevestiging oor die deelname van Anne Hathaway as haar ander assistent, Andrea Sachs, nie.
# Die Dlalisa Moyeni-stigting en NotInMyName bied steun aan inwoners van Tshwane in Mamelodi met ‘n sopkombuis na vandag se koue weer. Die Weerdiens waarsku oor koue toestande tot Maandag, wat uitdagings inhou vir minderbevoorregtes. Die organisasies moedig mede-Suid-Afrikaners aan om komberse, klere en ander noodsaaklikhede te skenk om diegene in nood te help.
# En ten slotte: Die Port Elizabethse Provinsiale Hospitaal gaan sy eerste Glimlag-naweek aanbied waartydens 25 kinders korrektiewe operasies sal ondergaan. Dit sluit in dat gesplete lippe en verhemeltes herstel word. Julie is Gesplete en Kraniofasiale Bewusmaking- en Voorkomingsmaand. Een van die kinders wat geopereer sal word, is die sesjarige Enzokuhle Ntlazana wat ernstige brandwonde opgedoen het toe ʼn ketel kookwater op haar geval het. Die Glimlag-stigting sê die operasies sal van vandag tot Sondag uitgevoer word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….