Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Kaapstad Internasionaal en OR Tambo is onder die wêreld se tien beste lughawens. Kaapstad is tweede en OR Tambo sesde op AirHelp se 2024-lys. Die kategorieë waarvolgens lughawens beoordeel word, sluit in hoe betyds hulle is en passasiers se oordeel oor die geriewe. Hamad Internasionale Lughawe in Katar is boaan die lys. Die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy sê die erkenning bewys dat harde werk beloon word. Die maatskappy sê hulle werk hard om die land se lughawens onder die beste in die wêreld te hou
# Die organisasie Chefs With Compassion het sy vyfde jaarlikse 67-duisend liter vir Mandeladag-veldtog van stapel gestuur. Die veldtog nooi sjefs, kokke, korporatiewe maatskappye en individue om 67-duisend liter sop te kook op Mandeladag om Madiba se nalatenskap te eer en iets te doen aan voedselonsekerheid. Verlede jaar het 114 deelnemers meer as 104-duisend liter sop gekook. Vanjaar mik die veldtog om verwagtinge te oortref met die bevordering van voedsame maaltye en die vermindering van kosvermorsing. Hulle daag die voedselbedryf uit om meer volhoubaar en gemeenskapsgerig te wees.
# ‘n Honneursgraad-student aan die Walter Sisulu-universiteit in die Oos-Kaap, Siphesande Kotelana, is gekies om volgende maand aan die sesde Internasionale Jeugdinkskrum by die Universiteit van Stellenbosch deel te neem. Kotelana, wat Politieke en Internasionale Betrekkinge studeer, is een van 24 kandidate uit Afrika. Die universiteit sê die simposium is ‘n platform waar jong denkers van die vasteland bymekaar kom om idees uit te ruil, oor beleid te debatteer en oplossings te vind vir sommige van die wêreld se knellendste uitdagings.
# Twee studente van die Universiteit van Fort Hare, Ntlantla Valtein en Lilly Kuhle Mbengo, is gekies om die instelling op die Nelson Mandela Wêreld-menseregte Skynverhoor-kompetisie in Switserland te verteenwoordig. Die kompetisie nooi voorgraadse en meesters-graadstudente van universiteite oral in die wêreld uit om spanne van twee te vorm en betoë vir ‘n hipotetiese menseregtegeval voor te lê. Fort Hare is een van 24 universiteite wêreldwyd en die enigste Suid-Afrikaanse instelling wie se spanne tot die eindronde van die wêreldwye kompetisie deurgedring het.
# En ten slotte: Die organiseerders van die Merebank-kermis beloof ‘n wye verskeidenheid van bedrywighede in eThekwini, KwaZulu-Natal, oor die volgende twee naweke. Die geleentheid wat deur die Merebank Legacy Book-projek aangebied word, word die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie gehou. Die laaste keer was in 2019. Benewens die tradisionele feesbedrywighede is daar ook ‘n Edu-fair-afdeling wat ‘n platform vir alle skole in die gebied verskaf om hulle prestasies en talente ten toon te stel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….