Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Projek Flamink gaan as deel van Mandeladag-viering probeer om op een dag 30 borskankeroperasies in twee provinsies uit te voer. Die spanne sal die operasies Saterdag by vyf hospitale in die Oos- en die Wes-Kaap uitvoer. Die doel is om die dringende behoefte aan tydige kankersorg in die openbare gesondheidsektor aan te pak. Die betrokke hospitale is Groote Schuur, Tygerberg, George, Cecilia Makiwane en Livingstone. Projek Flamink sê hierdie rekordpoging is ‘n belangrike mylpaal in die stryd teen borskanker.
# Die Universiteit Stellenbosch sê hy het ʼn skenking van 50-miljoen-rand ontvang vir studente in die Fakulteit Teologie en die Musiekdepartement. Die skenking is in ʼn persoon se testament aan die universiteit bemaak. Die skenker het verkies om anoniem te bly. Hugo Steyn van die universiteit sê die skenking moet gebruik word vir beurse aan minderbevoorregte voor- en nagraadse teologie- en musiekstudente. Dit word van volgende jaar af toegeken.
# Die Veiliger Suid-Afrika-stigting werk saam met die regering in Mpumalanga, die privaat sektor, gemeenskapsleiers en burgerlike organisasies om iets te doen aan maatskaplike misdaad en finansiële geletterdheid. Dit sluit in die gemeenskaps-geregtigheidsprogram, wat jongmense inlig oor die strafregstelsel en opleiding gee in lewensvaardighede, leierskap, rekenaargeletterdheid en begrotings. Gicks Moyane van die stigting sê die program fokus ook op armoedeverligting en voedselsekerheid:
# ʼn Nagraadse student aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Babongile Bidla, moedig jong mense aan om hulle eie sakeondernemings te begin. Sy het verlede jaar haar sakeonderneming, Cross Horizon Ventures, begin. Die meestersgraad-student in Politieke Studies, gaan nou by die span van die EMS-kleinsakekliniek aansluit. Die kliniek is deel van die ervaringsleer- en broeikas-ruimte vir UWK-studente. Bidla sê sy sal nou in die voorste linies wees om interaksie te bewerkstellig met sake-eienaars, en blootstelling aan mentors in die bedryf en regeringsagentskappe:
# En ten slotte: Universal Pictures en Illumination se Despicable Me 4 het die eerste naweek ná sy vrystelling in teaters tot boaan die Noord-Amerikaanse lokettrefferlys geklim. Die fliek met Steve Carell in die hoofrol, het binne drie dae meer as een-miljard-rand verdien. Dis meer as wat Shrek, Toy Story en Frozen gemaak het en is die konsessie wat die 15de meeste geld ooit verdien het. Disney en Pixar se Inside Out 2 is tweede met meer as 543-miljoen-rand en die apokaliptiese riller, A Quiet Place: Day One, is derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….