Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Kaapstad sê hy gaan voort om sy portefeulje vir strategiese bates onder die Direktoraat vir Ekonomiese Groei te verbeter. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die portefeulje bestuur onroerende eiendomsbates met groot ekonomiese, erfenis- toerisme- en omgewingswaarde. Hy sê dit sluit in die Athlone-stadion, die Goeie Hoop-sentrum, die stadsaal, die Parade en die Desmond- en Leah Tutu-huis:
# Die Rooikruis-vereniging in die Wes-Kaap se jaarlikse teepartytjie en veiling word vandag by die Vineyard Hotel in Kaapstad aangebied. Die plaaslike TV-aanbieder Katlego Maboe is die seremoniemeester. Een van die wêreld se beste internasionale motiveringsprekers, Steve Harris, sal ‘n toespraak lewer oor geestelike taaiheid. Die veiling om fondse vir die organisasie in te samel, bied gaste geleentheid om ongelooflike, oorspronklike kunswerke van die Oval Art Décor-galery te koop. Die werke is deur die kunstenaars Nathania Boch, Vicky Sanders en Matthew Bell.
# ‘n Student aan die Universiteit van Venda, Vhuthu Tshilengo, is in Amsterdam, Nederland, waar sy aan die Astrofisika-somerprogam vir ondervinding in internasionale navorsing deelneem. Die program van ses weke is ontwikkel sodat hoogsgemotiveerde studente ondervinding in die voorste navorsing aan die Universiteit van Amsterdam se Anton Pannekoek-instituut kan ontvang. Tshilengo is besig met die finale jaar van haar Meestersgraad in Fisika waarin sy bestaande MeerKAT-data van die MHONGOOSE-ruimteleskoop-projek gebruik.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie sê die bekendstelling van die Stad Tshwane se 2024 Hoëronderwys-innoveringsuitdaging sal die studentegemeenskap tot groot voordeel strek. Die doel is om studente te betrek om kreatiewe oplossings te vind vir diensleweringskwessies in Tshwane. Wenners sal prysgeld van tussen 30- en 50-duisend-rand ontvang. Tshwane se onderburgemeester, Nasiphi Moya, sê die doel is om toekomstige entrepreneurs voor te berei om die stad se knellende probleme op te los en lewensgehalte in die land te verbeter.
# En ten slotte: Die polisie in KwaZulu-Natal het sy Beanie-inisiatief van stapel gestuur om kwesbare mense hierdie winter warm te hou. Kaptein Louise le Roux het die veldtog vir behoeftige kinders in die Brighton Beach-polisiewyk begin. Woordvoerder Carmen Rhynes sê sommige musse is aangekoop, maar die meeste is gebrei of gehekel met wol wat aan hulle geskenk is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….