Goeie Nuus
BULLETIN 4 Julie
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Kaapstad is die eerste keer onder die top 100 universiteite van die wêreld soos vervat in Times Higher Education se ranglys nadat hy tot die 77ste plek gestyg het. Eenduisend-963 universiteite is vir die rangorde beoordeel deur middel van die toepassing van die Verenigde Nasies se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling. Die tussentydse vise-kansellier, professor Daya Reddy, sê Ikeys speel ‘n deurslaggewende rol om doeltreffende vennootskappe tussen die Globale Noorde en Suide asook tussen lande in die Suidelike Halfrond te smee om kundigheid na Afrika te bring.
# ‘n Professor in Immunologie aan die Universiteit Stellenbosch, Clive Gray, het die gesogte Harry Oppenheimer-genootskaptoekenning ontvang. Die genootskap met ʼn toelaag van 2,5-miljoen-rand word toegeken aan kundiges wat betrokke is by die nuutste en internasionaal betekenisvolle navorsing wat ʼn verreikende invloed het. Die universiteit sê Gray se werk is gemik op nuwe inligting oor maniere om vroeggeboortes, lae geboortegewig en leerprobleme te hanteer deur ʼn merker te vind wat geboorteprobleme voorspel.
# Slaai-liefhebbers vier die dag waarop die Caesar-slaai presies 100 jaar gelede geskep is. Die slaai is volgens oorlewering deur die Italiaanse immigrant, Caesar Cardini, by sy restaurant Caesar’s Place in Tijuana, Mexiko, uitgedink. Cardini het een snikwarm aand gesukkel om sy gaste kos te gee. Hy het heel Romaine-blare met knoffel-gegeurde olie, Worcester-sous, suurlemoene, gekookte eiers en Parmesaan-kaas bymekaar gegooi. Die restaurant sê hulle maak steeds tot 300 Caesar-slaaie elke dag. Tijuana beplan ʼn driedaagse kos-en-wynfees en sal ʼn standbeeld van Cardini onthul.
# ‘n Vroeë kunswerk van die Venesiese meester Titian, Rustyd tydens die Vlug na Egipte, is op ‘n veiling in London verkoop teen ʼn rekordprys van sowat 405-miljoen-rand. Die skildery is talle kere gesteel en in 1995 in ʼn plastieksak op ʼn Londense bushalte gevind nadat dit uit Longleat House in Engeland verwyder is. Die afslaer Christie’s se woordvoerder, Letizia Treves, sê Titian het die kunswerk in die eerste dekade van die 16de eeu geskep:
# En, dit lyk asof vandag se stemproses vir talle Britte ‘n gesinsaak is. Hulle verduidelik daarmee die beginsels van die demokrasie aan hulle kinders, maar neem ook hulle troeteldiere op ‘n uitstappie. Die wollerige hond Luna was een van die eerstes wat opgedaag het by ‘n stembus in die suidweste van Londen. George die spanjoel was ook in Londen te sien saam met sy eenjarige mens-sussie, Darcey, waar hulle ouers gestem het. Selfs katte het meegedoen, met die vriendelike Louie wat buite ‘n stemlokaal in Buckinghamshire opgemerk is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….