Goeie Nuus
BULLETIN 3 Julie
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrikaners is gelukkiger mense sedert die algemene verkiesing in Mei en die langverwagte aankondiging van die kabinet. Dit is volgens die Universiteit van Johannesburg se Gelukkigheidsaanwyser. Op ‘n skaal van tien, is nul baie ongelukkig, vyf is neutraal en tien is baie gelukkig. Die universiteit sê met die ontleding van die positiewe gelukkigheidskoers, het dit aan die lig gekom woorde soos hoop, geluk en vreugde wat op positiewe emosies dui, word deesdae meer gereeld gebruik.
# Africa Fashion International is die amptelike mode-borg vir Mej Suid-Afrika 2024. Precious Moloi-Motsepe het AFI in 2007 gestig, waarna die Pan-Afrika-ontwerpers globaal tot groot hoogtes gestyg het. Moloi-Motsepe sê hulle hoop om deur hierdie vennootskap ʼn kragtige stelling vir vroue-bemagtiging te maak terwyl hulle terselfdertyd die elegansie van uiteenlopende Afrika-identiteite vier. Die Mej Suid-Afrika-organisasie se uitvoerende hoof, Stephanie Weil, sê die vennootskap is baie gepas aangesien hulle kernwaardes deel, soos die bemagtiging van benadeelde vroue en die belangrikheid van onderwys.
# Die Walter Sisulu Universiteit se kunskurator, Zukisa Madyibi, bied ʼn reeks kunswerke aan wat die skoonheid van verbondenheid tussen mense beklemtoon. Een van sy mees uitdrukkingsvolle stukke, Ukhwatsha wamaBhele, is ʼn voorbeeld van een van sy lino-sneewerke wat hy as drukwerktegniek beskryf. Madyibi se werk is op die jaarlikse International Prints for Peace in Mexiko en die Sasol Signature-kunskompetisie uitgestal. Hy sê deur kuns te skep, gee hy uiting aan sy uitdrukkingsvermoë en kreatiwiteit.
# Twintig stalletjie-eienaars van Tshwane gaan baat vind by die maandelikse mark by Ouma Isie se Teetuin by die Smutshuis in die metro. Die mark bied ‘n verskeidenheid produkte, insluitend kuns, handwerk, boeke, leerprodukte, klere, varsprodukte en drasakke. Die organiseerder van die mark, Lance Miller, sê hulle hoop die mark sal inwoners byeenbring in ‘n aangename omgewing waar die Smuts Huis-museum ook besoek kan word.
# En, die Oostenrykse stad, Wene, is die derde agtereenvolgende jaar deur die Economist-intelligensie-eenheid bekroon as die leefbaarste stad ter wêreld. Altesaam 173 stede reg oor die wêreld is volgens talle belangrike faktore beoordeel. Dit sluit in gesondheidsorg, kultuur en die omgewing, bestendigheid, infrastruktuur en onderwys. Kopenhagen in Denemarke behou sy tweede plek terwyl Zürich in Switserland van die sesde na die derde plek opskuif. Honolulu in Hawaii is 23ste en die Amerikaanse stad wat die hoogste posisie op die lys beklee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….