Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Junie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die filantroop en medestigter van Microsoft, Bill Gates, sê kunsmatige intelligensie gaan vernuwing versnel en dit makliker maak om klimaatsverandering te beveg. In ‘n onderhoud met SkyNews waarsku hy egter dit moet deur mense met goeie bedoelings gebruik word. Hy sê kunsmatige intelligensie het tot dusver ʼn kleinerige rol gespeel om klimaatsverandering te bekamp, maar dit gaan vernuwing makliker maak. Gates sê wat klimaatsverandering betref, sal KI die modellering van smeltingsenergie soveel makliker maak.
# Salarisse in Suid-Afrika het in Mei effens herstel en die vlakke van 2023 verbygesteek te midde van ononderbroke kragvoorsiening en ‘n verbeterde sake-omgewing. Die BankservAfrica Take-home Pay-indeks dui op ‘n gemiddelde nominale salaris van 15-duisend-888-rand, wat ‘n tien-persent styging is sedert ‘n jaar gelede. Aangepas vir inflasie het salarisse 14-duisend-en-15-rand bereik, wat ‘n 4,5-persent styging is. Vooruitsigte stem ooreen met die voorspellings van die Reserwebank van ‘n positiewe tendens vir 2024, ondanks voortslepende ekonomiese uitdagings soos hoë rentekoerse en lewenskoste.
# Die Stad Kaapstad het 3,5-miljard-rand oor ‘n tydperk van drie jaar van Nedbank bekom vir ‘n infrastruktuurprojek. Die bedrag is deur die metroraad goedgekeur en is deel van projek van 39,5-miljard-rand om teen 2027 120-duisend werksgeleenthede in konstruksie te skep. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die kontant-inspuiting is die grootste infrastruktuur-belegging ooit in ‘n metro in Suid-Afrika. Die stad het ook 2,7-miljard-rand van die Internasionale Finansieringskorporasie en 1,95-miljard-rand van die Franse Ontwikkelingsagentskap ontvang.
Nog nuus van Kaapstad is dat die 72 uur se instandhoudingswerk aan die Kaapse Vlakte se waternetwerk suksesvol afgehandel is. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê sommige van die 22 gemeenskappe wat geraak is, het reeds laat weet dat die watertoevoer herstel is en ander sal bykom soos die waterdruk toeneem:
# ‘n Nie-ingrypingsprosedure met hoë-intensiteit, gefokusde ultrasoon wat ‘n snytjie maak in die deel van die brein wat beweging beheer gee nou Parkinsons-pasiënte hoop op onafhanklikheid. Die prosedure is die eerste keer vroeër die maand in Skotland op ‘n pasiënt uitgevoer. Die afgetrede brandbestryder Ian Keir se regterhand het twee jaar lank gebewe, wat alledaagse take onmoontlik gemaak het. Hy is behandel as deel van ‘n internasionale kliniese proefneming. Keir sê hy weet hy is nie heeltemal genees nie, maar dit werk teen van sy simptome van Parkinsons.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….