Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Junie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrikaanse werknemers is onder die gelukkigste ter wêreld, en toon hoër vlakke van betrokkenheid en geesdrif, vergeleke met die globale gemiddeld. Volgens Gallup se State of the Global Workplace-verslag, is 29-persent van Suid-Afrikaanse werknemers in hulle werkplekke betrokke, wat die wêreldwye gemiddeld van net ses-persent oorskry. Dit word toegeskryf aan sterk arbeidswetgewing en positiewe werkservarings. Hoë betrokkenheid bevorder produktiwiteit, personeelretensie, en beter kliëntediens, met positiewe sake-uitkomste. Ondanks uitdagings soos daaglikse stres, ervaar 56-persent van die land se werknemers ‘n afname in hul vlak van ontevredenheid en soek nie aktief na ander werk nie.
# Een van twee groen waterstofaanlegte in Suid-Afirka is in Coega in die Oos-Kaap gevestig. Met die samelewing wat maniere ondersoek om ‘n klimaat-veerkragtige omgewing te skep, hou akademici van die Nelson Mandela-universiteit en belanghebbendes webinare om die voordele en beperkings van groen waterstof in die Suid-Afrikaanse konteks te bespreek. ‘n Navorser, Gary Koekemoer, het die projek se potensiële rol in werkskepping benadruk:
# ‘n Troetel-donkie wat vyf jaar gelede ontsnap het van sy eienaars in Kalifornië leef lekker saam met ‘n trop wilde elke. Terrie en Dave Drewry se donkie, Diesel, het in 2019 op ‘n staptog geskrik en laat spaander. Hulle het lank gesoek, maar die laaste keer wat Diesel op ‘n staproete-kamera gesien is, was ‘n paar maande later. ‘n Stapper het vroeër die maand die tevrede donkie opgemerk en ‘n video op sosiale media gepos. Die egpaar het Diesel herken maar besluit om die langoor in vrede in die natuur te los.
# Twee vissermanne in Mississippi in Amerika het helde geword toe hulle 38 honde van verdrinking gered het in Grenada-meer. Bob Gist en Brad Carlisle het gehengel met ‘n gids, Jordan Chrestman, toe hulle afgekom het op die gestrande diere ver van die kus af, almal met GPS-nekbande. Die honde was deel van ‘n jakkalsjag en het ‘n bok die meer ingejaag. Die vissermanne het drie keer kus toe gevaar om die uitgeputte honde te red. Sonmmige van hulle het tot ‘n uur lank water getrap. Die honde is nou veilig terug by hulle dankbare eienaars.
# En, ‘n agtjarige Pekinees genaamd Wild Thang het die 2024 ”Wêreld se lelikste Hond”-kompetisie in Kalifornië gewen. Die dier het al vyf keer aan die kompetisie deelgeneem en drie keer tweede gekom voordat hy uiteindelik vanjaar die wenner was. Wild Thang het as babahondjie die gevreesde hondesiekte gekry. Hy het gesond geword, maar permanente fisiese skade opgedoen. Hy en sy eienaar, Ann Lewis, het 90-duisend-rand gewen. Die “Wêreld se lelikste hond”-kompetisie word byna 50 jaar al aangebied en vier die gebreke wat alle honde spesiaal en enig in hul soort maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….