Goeie Nuus
BULLETIN 11 Maart
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die biografiese rolprent, Oppenheimer, het sewe toekennings gewen op die 96ste Academy Awards. Dit sluit in beste rolprent, beste regisseur vir Christopher Nolan, beste akteur vir Cillian Murphy en beste ondersteunende akteur vir Robert Downey Junior. Emma Stone is aangewys as beste aktrise vir haar rol in Poor Things. Die Holdovers-ster Da’Vine Joy Randolph is die beste ondersteunende aktrise. Barbie, wat verlede jaar die meeste geld by die loket gemaak het, het een toekenning ontvang vir die beste oorspronklike liedjie geskryf deur Billie Eilish en haar broer, Finneas.
# Die bekende Oos-Kaapse tradisionele Gwijo-sanger, Vee Sholo, het ‘n nuwe reis aangepak. Hy het hom ingeskryf vir ‘n musiekgraad aan die Universiteit van Fort Hare. Igwijo of amagwijo is Xhosa-liedjies wat gewoonlik by tradisionele geleenthede soos inlywings of by sportgeleenthede gesing word. Sholo sê hy wil nie net sy vokale vaardighede verbeter nie, maar hom ook bekwaam in musiekteorie, komposisie en uitvoeringstegnieke. Hy sê hy hoop dit sal hom toerus met die gereedskap wat nodig is vir toekomstige sukses in die steeds-ontwikkelende landskap van die musiekbedryf.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, sê die Conradiepark-projek in Pinelands, Kaapstad, het ‘n uiters positiewe uitwerking op inwoners. Die model vir ʼn beter lewe is een van talle belangrike projekte waaraan die provinsiale regering voorkeur gee. Hierdie projek behoort minstens drie-duisend-500 wooneenhede beskikbaar te stel. Simmers sê die ontwikkeling het meer as twee-duisend werksgeleenthede geskep en meer as 90 ekonomiese geleenthede vir klein-, medium- en mikro-ondernemings:
# Kaapstad se Departement vir Maatskaplike Ontwikkeling en Vroeë Kinderontwikkeling sê hulle doen beduidende stappe om die veiligheid van Vroeë Kinderontwikkelingsentrums te verbeter. Die departement stel Noodhulp Vlak Een-opleiding beskikbaar vir 420 VKO-praktisyns afkomstig van verskeie gebiede regdeur die stad. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê deur VKO-praktisyns met noodhulp-vaardighede en hulpbronne te bemagtig, probeer die stad om veiliger omgewings te skep vir peuters en kleuters.
# En, ‘n sportsentrum in Mamelodi, Pretoria, wil tennis gebruik om die jeug te bemagtig en maatskaplike kwessies in die gemeenskap aan te pak. Die Impilo-0720 Sportsentrum vir Uitnemendheid hou seuns en meisies besig deur vir hulle tennislesse te gee en maatskaplike kwessies te bespreek wat hulle raak. Sizwe Radebe van die sentrum sê hul hoofdoel is om die kinders weg te hou van misdaad en dwelms. Hy sê hulle het meer as 60 kinders van ses jaar en ouer wat by die sentrum aangesluit het om tennis, leierskap-vaardighede en dissipline aan te leer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….