Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Junie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die ekonoom Dawie Roodt meen die positiewe vertoning van die Suid-Afrikaanse rand is die gevolg van die markte se verligting oor die uitslag van die onlangse verkiesing. Die rand het tot sy hoogste vlak in byna ‘n jaar gestyg, tot net onder 18-rand teen die dollar. Roodt voer aan die styging is in ooreenstemming met die vordering tot ‘n regering van nasionale eenheid. Hy voeg by onlangse ontwikkelings is ‘n teken van groter ekonomiese optimisme:
# Tshwane se burgemeester, Cilliers Brink, verwelkom vandag ‘n nuwe groep van 114 leerders in die stad se ambagprogram by die Tshwane-raadsaal in Pretoria. Die program word reeds ʼn geruime tyd deur die Tshwane Leierskap- en Bestuurs-akademie aangebied en is ten volle geakkrediteer. Hierdie strategiese belegging van die stad brei opleiding vir loodgieter- en waterverwante vaardighede uit en maak seker belangrike poste word gevul. Dit dra by dat die stad behoorlike interne vermoë behou om diensleweringskwessies te hanteer.
# Die Stad Kaapstad gaan 30 elektriese busse aanskaf vir die MyCiTi-program en oorweeg dit om sy hele vloot, insluitend vullisvragmotors, te elektrifiseer. Dis deel van die doelwit om teen 2050 koolstof-neutraal te wees. Die Kaapstadse Direktoraat vir Stedelike Mobiliteit het verlede maand die tender vir elektriese busse uitgereik en die sluitingsdatum is middel-Julie. Volgens burgemeesterskomiteelid Rob Quintas sal die uitbreiding Khayelitsha en Mitchells Plain met Claremont en Wynberg verbind. Elektriese busse word teen 2025 ook vir Tshwane en eThekwini beplan.
# Rhodes-universiteit bied ʼn reeks vertonings en uitstallings aan by die amptelike Nasionale Kunstefees in Makhanda wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier. Die universiteit se Departement van Beeldende Kunste het ʼn spesiale uitstalling wat vier dekades se kunswerke deur huidige en voormalige personeel vier. Die visekanselier Sizwe Mabizela sê as deel van die Nasionale Kunstefees se 50-jaar-viering, die 30 jaar van demokrasie en 120 jaar sedert die Rhodes-universiteit se stigting, dink hulle na oor die ryke geskiedenis en kuns se vermoë om die samelewing te vorm. Die fees begin vandag en duur tot Sondag.
# En ten slotte: Die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap hierdie Saterdag op Loftus Versfeld sal ‘n toonbeeld van eenheid wees soos nog nooit tevore nie. Dertig kinders van die Jakaranda-kinderhuis in Pretoria is aangewys om na die wedstryd die medaljes aan die spelers te oorhandig. Die uitvoerende hoof van die Jakaranda-kinderhuis, Charlene Grobler, was oorstelp toe sy ingelig is hulle kinders word gevra om voor 50-duisend ondersteuners op te tree by die eerste VRK-eindstryd op Loftus. Hulle word ook getrakteer met ‘n kuier in ‘n losie op wedstryddag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….