Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Junie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Samewerking tussen twee uiteenlopende fakulteite van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het gelei tot ‘n vernuwende produksie. Dit word later die maand die eerste keer by vanjaar se Nasionale Kunstefees met die gepaste tema Shaping Together opgevoer. Na ʼn suksesvolle ontmoeting tussen die Frans-Suid-Afrikaanse Instituut van Tegnologie onder leiding van professor Anish Kurien, het Rostislava Pashkevitch-Ngobeni die produksie ontwikkel en dit UNLiMiTED genoem. Die stuk gebruik Kunsmatige Intelligensie en word geregisseer deur Pashkevitch-Ngobeni.
# Wetenskaplikes aan die Universiteit van Cambridge in Engeland het bevind die skottelgoedsponsie kan aardverwarmende koolsofdioksied uit die atmosfeer opsuig. Hulle het dit met geaktiveerde koolstof soos ‘n battery gelaai en bevind dit kan koolstofdioksied direk uit die lug absorbeer. Hulle het die koolstofdioksied en koolstof geskei deur die spons tot tussen 90 en 100 grade Celsius te verhit en só die bindings tussen die koolstofdioksied en hidroksied-ione afgebreek. Hulle sê hul tegniek vereis baie minder energie en kan deur slegs hernubare energie aangedryf word.
# Die 1000-vrouetrust het ‘n nasionale Van-Omstander-na-Opstander-kompetisie ingestel. Die handelsmerkbestuurder Adrie Jurgensen sê hulle wil leerders in Suid-Afrikaanse skole mobiliseer teen boeliegedrag. Jurgensen sê hulle versprei 20-duisend pamflette in skole met uitnodigings om deel te neem aan die kompetisie en hoe opgetree kan word wanneer kinders in skole afgeknou word:
# Twee Wes-Kaapse hoërskoolleerders wat gekies is vir die SEAmester-program vertrek vandag op ‘n opwindende vaart van tien dae op die SA Agulhas II. Die woordvoerder van die provinsiale Onderwysdepartement Bronagh Hammond sê Aimee Stollie, ‘n graad 12-leerder aan die Môrester Akademie, en Akhona Zondo, ‘n graad 12-leerder aan Simon’s Town High School, sluit aan by oseanografiese, visserye, biogeochemiese en biologiese kenners op die skip:
# Die Tony-toekennings vir uitnemendheid in Broadway-teater het gister in New York Stad se Lincoln-sentrum plaasgevind. Shaina Taub het vir die beste partituur en beste boek in ‘n musiekblyspel gewen met Suffs, die storie van die beweging vir vrouestemreg. Die beste herlewing van ‘n musiekblyspel het gegaan aan Merrily We Roll Along, met Daniel Radcliffe en Jonathan Groff wat albei toekennings vir hulle toneelspel ontvang het. David Adjmi se toneelstuk Stereophonic, oor ‘n 70’s-era rockgroep wat ‘n album uitbring het die Tony gekry vir beste verhoogstuk en beste regisseur vir Daniel Aukin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….