Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Mei
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie sê sy departement van Gasvryheid se nuwe akademikus van die Geslag van Akademici-program, Sharon Mukhola, het die gesogte prys vir besoekende navorser aan die Sentrale Universiteit van Noord-Carolina in Amerika ontvang. Mukhola is tans besig met haar doktorsgraad in Gasvryheidsbestuur en fokus op die ontwikkeling van ‘n omvattende raamwerk vir die doeltreffende bestuur en voorsiening van leierskap in gasvryheid in Suid-Afrika. TUT sê die toekenning is ‘n merkwaardige prestasie vir Mukhola.
# ‘n Projek van vier oudstudente van die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek word op die 26ste Encounters Suid-Afrikaanse Internasionale Dokumentêr-fees vertoon. Die naam van die dokumentêr, wat hulle verlede jaar vervaardig het terwyl hulle studente was, is Van Brood en Water. Die fees word beskou as Afrika se belangrikste dokumentêr-fees en is een van die oudstes in Afrika. Professor Herman Wasserman sê dis ʼn bewys van hulle talent, harde werk en toewyding.
Encounters 2024 het Mother City intussen as sy openingsrolprent aangekondig. Die prent deur Miki Redelinghuys en Pearlie Joubert ondersoek Reclaim the City se stryd om stedelike ruimtes in Kaapstad te vestig. Aktiviste soos Nkosikhona Swartbooi het langer as ses jaar magtige eiendomsmaatskappye teengestaan om regverdige behuising daar te stel. Plaaslike en internasionale rolprente wat ‘n werklike uitwerking gehad het, sal volgende maand in verskeie teaters in Kaapstad en Johannesburg te sien wees.
# Die Wild- en Omgewingsvereniging van Suid-Afrika en GreenCape het die wenners van die Youth Voices-kompetisie vir 2024 aangekondig. Dis deel van die Suid-Afrikaanse Klimaatsverandering-kampioeneprojek. Lindokuhle Bici van die Oos-Kaap was eerste, Juvann Links van die Noord-Kaap tweede en Sinayo Lungile van die Oos-Kaap derde. Die kompetisie, wat deur die Europese Unie befonds word, wil veral die jeug uit gemarginaliseerde gemeenskappe inspireer om omgewingsbewustheid te skep en oplossings te ontwikkel.
# En die Onderrig- en Opleidingsowerheid vir die Groot- en Kleinhandelsektor het ‘n hupstoot aan twee jong entrepreneurs van Dobsonville, Soweto, gegee sodat hul honderd-persent suiwer vrugtesap, Loxion Fruits, aan groot winkels verskaf kan word. Lunga Mgaga en Patrick Thokkie het Lifeway Imphatho Brands in ‘n kombuis begin met net 800-rand. Hulle het vier mense in diens en lewer maandeliks een-duisend-500 liter sap. Mgaga het aan News24 gesê hul sukses is te danke aan die ontwikkelingsprogram vir informele handelaars en mikro-ondernemings en ‘n meevaller van tien-duisend-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….