Goeie Nuus
BULLETIN 27 Mei
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Klerksdorp-Tshepong-hospitaal in Noordwes het sy eerste hartoperasie suksesvol uitgevoer in sy nuwe kardio-torakale teater. ‘n Nege-en-dertig-jarige vrou van Jouberton met ‘n lekkende hartklep en aangebore aneurisme was die begunstigde. Die LUR vir Gesondheid, Madoda Sambatha, sê die vennootskap met die Charlotte Maxeke-hospitaal in Gauteng het met die suksesvolle operasie ‘n geskiedkundige mylpaal behaal, wat die voordele van ‘n nasionale gesondheidsversekerings-keuse ten toon stel:
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie en Intel het ‘n belangrike stap gedoen om studente voor te berei vir toekomstige werk. Hulle het saamgespan om die TUT-Intel Kunsmatige Intelligensie-loopbaan tegniese sentrum te stig wat wêreldwyd die eerste van sy soort is. Die universiteit sê die sentrum sal verseker alle studente op alle kampusse leer die taal van K-I. Die sentrum bied die unieke Intel K-I vir Toekomstige Werksmag-program aan wat bestaan uit meer as 200 ure met die jongste onderrig- en leer-inhoud wat nuwe K-I-neigings insluit.
# Die Universiteit van Pretoria het twaalf personeellede gelukgewens wat as finaliste aangewys is in vanjaar se NSTF-South32-toekennings, bekend as die Wetenskap-Oscars van Suid-Afrika. Die Nasionale Wetenskap en Tegnologie-forum-toekennings vier uitmuntende bydraes tot die wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en vernuwing. ‘n Beoordelingspaneel, saam met ‘n paneel van kenners, is verantwoordelik vir die finaliste-kortlys en die kies van die wenners. Die toekenningsplegtigheid word op 11 Julie gehou.
# Die Stad Kaapstad nooi mense uit om die museum by die Woodhead-dam te besoek. Die museum oorkant die Hely Hutchinson-dam op Tafelberg is ʼn visuele rekord van die stad se watererfenis en beklemtoon die dringendheid van waterbewaring. Die dam word sedert 1972 gebruik. Die stad sê die museum bied ‘n kykie na die ryke geskiedenis van die dam met uitstallings van gespesialiseerde toerusting uit die tyd toe die dam gebou is, soos die stoomtrein, handgereedskap, instrumente en toerusting wat gebruik is om watervloei te meet.
# En, Suid-Afrika se voorste komedie-verskeidenheidskonsert, die Kaapstadse Komediefees, keer volgende maand terug na die Baxter-teater vir sy 25ste herdenking. Van die kunstenaars wat gaan optree is die Kanadese super poppespelspelers, Caberet Decadanse, ‘n Britain’s Got Talent-finalis, Graeme Matthews, en plaaslike komediante soos Carl Weber en Ismail Moses. Een van die unieke glanspunte van die fees is die verskillende verskeidenheidsoptredes, waarvan drie vanjaar aangebied word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….