Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Mei
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Lebohang Kganye, het die gesogte Deutsche Börse Photography Foundation-prys gewen. Dis vir haar uitstalling wat in die Fotograaf-galery in sentraal-Londen uitgestal word. Kganye kombineer mondelinge geskiedenis, familie-foto-albums en teater-verhoë om die persoonlike geskiedenis van apartheid na te spoor. Die voorsitter van die beoordelaarspaneel, Claire Grafik, sê hulle het gehou van haar gebruik van teater om die gehoor in gesprek te bring met die kunswerke.
# ‘n Gegradueerde van die Universiteit van Pretoria, Ghwaha Madwatte, is die eerste ontvanger van die Wenner-Gren Wadsworth African Fellowship. Die instelling se beurs van 373-duisend-rand bied befondsing vir Afrika-studente wat vir ‘n doktorsgraad studeer. Die studente ontvang ook opleiding in antropologie op internasionale vlak. Madwatte, wat van die Nigeriese staat Adamawa kom, sê die beurs open ‘n wêreld van ondenkbare moontlikhede vir hom. Hy fokus nou om vordering te maak met sy doktorstesis oor hospitaalproses, pasiënt-outonomie en die logika van sorg.
# Die Universiteit van Pretoria sê sy JuniorTukkie- gratis aanlyn platform is ‘n waardevolle bron met ekstra klasse en studiemateriaal wat studente kan gebruik om hul punte ʼn hupstoot te gee. Sedert 2021 het 17-duisend-690 leerders op die platform geregistreer waarvan sowat elf-duisend-500 die inhoud aktief gebruik het. Van die studente wat voordeel getrek het, was 68-persent uit Gauteng, 12-persent uit KwaZulu-Natal en tien-persent uit die Wes-Kaap. Die universiteit sê hierdie projek beklemtoon sy verbintenis om digitale leierskap te bevorder.
# Vanjaar se Franschhoek Letterkundige Fees het ‘n noemenswaardige aantal vooraanstaande internasionale en pan-Afrika-skrywers wat die naweek aan die program deelneem. Onder hulle is die selfpublikasie-kenner en skrywer Vanessa Wilson, die bekroonde Oekraïnse skrywer Andrey Kurkov, en die romanskrywer, Bolu Babalola. Die Franschhoek Lees-program van die fees het die afgelope 15 jaar ‘n belegging in vier laerskole in die omgewing gemaak. Sy doelstellings sluit in die aanmoediging van jongmense om biblioteke te gebruik en lees aan te moedig.
# En ten slotte: Die heersende Mejuffrou Suid-Afrika, Natasha Joubert, span saam met HyperionDev en ASUS SA om vaardigheidsontwikkeling te ondersteun en onderwysgeleenthede uit te brei. Die onderwys-afdeling van haar voorspraakveldtog, Die Natasha Joubert-versameling, en dié twee maatskappye bied tien koderingsbeurse aan. Studente wat gekies word, sal ʼn omvattende webontwikkelaar-kursus van ses maande bywoon. Joubert sê kodering bied ʼn belowende loopbaangeleentheid in ʼn groeiende werksmark en met groot groei-moontlikhede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….