Goeie Nuus
BULLETIN 16 Mei
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die AA voorspel ‘n aansienlike daling in brandstofpryse in Junie. Ongeouditeerde middel-maand data van die Sentrale Energiefonds dui daarop dat die prys van 95-oktaan petrol moontlik met sowat 61-sent per liter sal daal, en 93-oktaan petrol met sowat 63-sent. Die dieselprys sal na verwagting met sowat 74-sent per liter daal en die prys van paraffien met 69-sent. Die AA sê die vernaamste dryfveer vir die dalings is ‘n sterker rand en laer internasionale oliepryse.
# Die wêreldbekende vakkundige in Afrikastudies en Geskiedenis, Toyin Falola, het ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria ontvang. Dit gee erkenning aan sy besondere akademiese prestasies en uitstaande bydrae as intellektueel. Falola, ʼn professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Texas in Austin, word beskou as een van Afrika se mees uitstaande geskiedkundiges en het meer as 200 boeke geskryf en geredigeer. Hy sê dit beteken baie dat die universiteit erkenning gee aan sy werk en loopbaan.
# Wits-universiteit in samewerking met die Liberty-groep het ʼn nuwe FinTech-navorsingsentrum bekendgestel. Dit is ʼn ruimte waar navorsers, denkers, knutselaars en probleemoplossers kan vergader en saamwerk om optimale oplossings vir probleme in die regte lewe te vind. Professor Jason Cohen van die universiteit sê dit sal baie bydra om plaaslike vermoë te bou wat die finansiële sektor nodig het en vaardighede verskaf wat die sektor teen die toekoms kan beskerm.
# ‘n Junior dosent van die Vrystaatse Universiteit se Departement van Beeldende Kunste, Johandi du Plessis-Kleynhans, het die gesogte Ampersand Fellowship and Residency ontvang om in New York te studeer. Haar solo-uitstalling, Viral Images, was onlangs by die Oliewenhuis-kunsmuseum te sien waar sy haar vaardigheid met installasiekuns ten toon gestel het. Du Plessis-Kleynhans het verskillende mediums en materiale gebruik, van beeldhouwerk tot digitale insette. Sy sê installasiekuns is nie net ʼn medium nie, maar ʼn ervaring wat ruimtes hervorm en kykers op talle sensoriese vlakke betrek.
# En, vandag is Internasionale Dag vir die Seunskind en ‘n organisasie sonder winsbejag tree op as mentor vir seuns sonder pa’s, en bevorder waardes soos vriendelikheid, eerlikheid en selfdissipline. Die Character Company sê in gemeenskappe wat streef na verbeterde geslagsgelykheid, groter veiligheid en gelyke geleenthede vir vroue en meisies, kan seuns maklik oorgesien word. Die stigter en uitvoerende hoof, Jaco van Schalkwyk sê seuns kan nie ignoreer word en dan is mense verbaas as hulle ‘n produk word van die voorbeelde wat die samelewing stel nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….