Goeie Nuus
BULLETIN 15 Mei
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die dokumentêr, South Africa Celebrates 30 Years of Freedom, het sy wêreld-debuut gemaak met die openingsgeleentheid van die 77ste Cannes Internasionale Rolprentfees in Frankryk. Dit is vervaardig deur Moments Entertainment en die Thabo Mbeki-stigting en spog met bekende name soos die legendariese skrywer, regisseur en draaiboekskrywer John Kani en die sangeres, liedjieskrywer en humanis, Yvonne Chaka Chaka. Die vervaardiger, Firdoze Bulbulia, het aan News24 gesê die dokumentêr bevat materiaal wat nog nooit voorheen gesien is nie en vertel hoe ‘n nuwe Suid-Afrika gebou is.
# Die Universiteit van die Vrystaat se Departement van Oogkunde span saam met ORBIS, ‘n internasionale organisasie sonder winsbejag om voorkombare blindheid te bestry. Dit is die eerste universiteitsdepartement in die streek wat met dié organisasie saamwerk. Die departementshoof, professor Wayne Marais, is ook gekies om deel te wees van ORBIS se hoog-aangeskrewe internasionale onderrigspan. Die universiteit sê Marais gaan ‘n kernrol speel in die bevordering van ORBIS se internasionale opleidingsplatform en sal ‘n bydrae maak tot die bevordering van die verbetering van oogkunde-onderrig.
# U-turn Homeless Ministries en Independent Media het ʼn veldtog van stapel gestuur wat ʼn Nag op Straat genoem word terwyl die winter nader kom en haweloosheid toeneem. Die doel is om ‘n miljoen-rand in te samel. Suid-Afrikaners word aangemoedig om ʼn bydrae te maak en Saterdag eengesindheid met haweloses te toon deur buite te slaap. U-turn se woordvoerder, Valerie Govender, sê hulle wil mense meer bewus maak van haweloosheid, en beklemtoon hierdie mense het dikwels nie ʼn keuse nie.
# Inskrywings vir die agste jaarlikse Afrika Eiendomsbeleggings-toekennings is nou oop en inskrywings uit Suid-Afrika sal die eerste keer aanvaar word. Ontwikkelaars, professionele spanne, raadgewers, verskaffers en grondeienaars reg oor Afrika kan deelneem. Die geleentheid se woordvoerder, Murray Anderson-Ogle, sê die toekennings gee nie net erkenning aan die beste projekte en individue in Afrika se eiendomsbedryf nie, maar vier ook vernuwing, toewyding en kennis wat die bedryf laat vooruit gaan. Inskrywings sluit op 1 Julie.
# En, agt horlosies wat aan die die Formule Een-ikoon, Michael Schumacher, behoort het, is vir sowat 74-miljoen-rand verkoop op ‘n veiling in Genève, Switserland. Die duurste een is ‘n horlosie wat die voormalige uitvoerende hoof van Ferrari, Jean Todt, in 2004 aan die Duitse renjaer as ‘n Kersgeskenk gegee het. Schumacher, wat ‘n jaar na sy uittrede in ‘n ski-ongeluk was, deel die rekord van sewe F1-titels met die Brit Lewis Hamilton.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….