Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Mei
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die HUB-galery in Kaapstad bied tans ‘n uitstalling aan met die titel: 30 Years the Occupants. Dit bevat ʼn versameling foto-essays van Matthew Willman se Mandela-erfenisversameling, asook ʼn uitstalling van die Spier-versameling van moderne Suid-Afrikaanse kuns. Die uitstalling beeld drie dekades van demokrasie uit wat ʼn verskeidenheid post-apartheid-verhale bevat. Die Mandela-erfenisversameling spog met ʼn reeks foto’s wat oor jare geneem is en Nelson Mandela se reis en belangrike elemente van die vryheidstryd uitbeeld.
# Die eThekwini-munisipaliteit sê Afrika se Reis-indaba wat tans in die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konvensiesentrum aangebied word, sal die metro se ekonomie beduidend bevorder. Sowat nege-duisend afgevaardigdes van meer as 25 lande sal die vierdaagse geleentheid bywoon wat tot Donderdag duur. Die metro sê die geleentheid sal sowat 439-miljoen-rand vir eThekwini se bruto binnelandse produk inbring, terwyl 796 werksgeleenthede vir die tydperk geskep is.
# ‘n Student aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Asithandile Nicolene Dyantyi, gaan die Roy Emerson-toekenning van die Internasionale Federasie van Omgewingsgesondheid ontvang vir haar verhandeling, Die Modernisering van Openbare Omgewingsgesondheid: Die aanwending van gevorderde tegnologie wat in die digitale tydperk beskikbaar is om vandag te help voorberei vir môre se uitdagings. Dyantyi sal die toekenning volgende week op die Wêreldkongres in Perth, Australië, ontvang.
# Die bekroonde digter, Harold Edward Owens, het sy doktorsgraad in Skeppende Skryfkuns by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Geesteswetenskappe ontvang. Die 74-jarige Owens se digkuns fokus op die natuur en hy hoop om deur sy woorde aandag te vestig op die ongekende uitsterwing van die natuurlewe en ekostelsels. Die titel van sy jongste publikasie en negende digbundel is Thicket: Shades from the Eastern Cape. ʼn Professor aan die universiteit, David Medalie, sê Owen is ʼn merkwaardige digter wie se vaardige taalgebruik die leser plesier verskaf en bekoor.
# En ten slotte: Alice Childress se gevatte en diepsinnige toneelstuk, Trouble in Mind, open vandag in die Baxter-teater in Kaapstad en die speelvak duur tot 1 Junie. Die rolverdeling sluit akteurs soos Thembi Mtshali-Jones, Antony Coleman en Royston Stoffels in en dit handel oor rassisme, seksisme, skynheiligheid en konflik oor vele geslagte in Amerika. Dis onder leiding van die bekroonde regisseur Mdu Kweyama, en word moontlik gemaak deur die Stad Kaapstad, die Oppenheimer-gedenktrust en die Nasionale Kunsteraad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….