Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Mei
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, het die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum gelukgewens met sy twee toekennings op vanjaar se Eventex-geleentheid. Wenger het die sentrum bedank vir 20 jaar se uitnemendheid om die provinsie as voorste geleentheidsbestemming te vestig, die ekonomie te bevorder en duisende werksgeleenthede te ondersteun:
# Die Universiteit van Pretoria sê ‘n 25-jarige ontvanger van ‘n Baccalaureusgraad in Geneeskunde en Chirurgie, Samuel Imevbore, het ‘n ongewone pad na sukses gevolg. Imevbore, wat op die ouderdom van 14 met sekelsel-anemie gediagnoseer is, het die komplikasies oorleef en nou graad gevang. Hy sê om die streng eise van mediese studies saam met sy gesondheidstoestand te bestuur, het aansienlike uitdagings ingehou, maar hy was vasbeslote om te volhard, ongeag die struikelblokke op sy pad.
# Die Tygerbergse Mondgesondheidsentrum in Kaapstad en die Universiteit van die Wes-Kaap het hul jongste toevoeging, ‘n moderne Kegelstraal-rekenaartomografie-eenheid, bekendgestel. Die eenheid bied die jongste tegnologie, wat tandheelkundiges in staat sal stel om meer akkurate diagnose, gefokusde behandeling en beter pasiëntervarings te lewer. Professor Veerasamy Yengopal van die universiteit sê die koste vir die eenheid, tesame met bykomende toerusting en opleiding, word geraam op drie-miljoen-rand:
# Die Natuurgeskiedenis-museum in New York gaan tot Januarie volgende jaar meer as 80 ikoniese stukke juweliersware uitstel wat vyf dekades van hip-hop verteenwoordig. Die uitstalling, getiteld Ice Cold: An Exhibition of Hip-Hop Jewellery, bevat stukke soos Nicki Minaj se Barbie-diamanthangertjie, Jay-Z se Roc-A-Fella-diamantmedalje en A$AP Rocky se halssnoer. Die museum se president, Sean Decatur, sê die juweliersware wat uitgestal word, maak ‘n belangrike deel uit van hip-hop-geskiedenis en -kultuur:
# En ten slotte: ‘n Dieretuin in China word beskuldig dat hy honde swart en wit geverf het vir sy sogenaamde panda-honduitstalling in ‘n poging om besoekers te laat dink hulle sien regte pandas. Besoekers wat ingestroom het om die diere te sien was teleurgesteld toe hulle agtergekom dit was in werklikheid Chows, oorspronklik uit Noord-China, en bekend vir hulle dik pels. ‘n Woordvoerder verdedig die dieretuin teen aantygings van vals advertensie, en sê hulle het net ‘n nuwe uitstalling aangebied sonder om meer toegangsgeld te vra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….