Goeie Nuus
BULLETIN 6 Maart
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Beweeglikheid, Ricardo Mackenzie, ontmoet vandag werksoekers van Strandfontein in Kaapstad wat voordeel trek uit die Kry jou by die Werk-reisbewys. Die veldtog beteken werksoekers wat die Golden Arrow-busdiens gebruik, kan gratis reis as hulle vir ‘n werksonderhoud gaan. Mackenzie sê werklose mense het eenvoudig nie geld vir vervoer nie, wat dit moeilik maak om werk te soek en vir onderhoude te gaan. Hy sê die gratis reisbewys, wat 12 ritte insluit, verwyder hierdie eerste hekkie en help werksoekers om die werk te kry wat hulle so dringend nodig het.
# Die Universiteit van Pretoria het onlangs ʼn toekenning ontvang van die wêreldwye program vir studentesukses, Achieving the Dream. Die program sonder winsbejag neem die leiding om bewysgegronde verbetering te bevorder. Die universiteit is vereer omdat hy deel is van die program se pogings om studentesukses te bepaal deur die bevordering van gelykheid en studente-ontwikkeling. Die instelling se adjunkhoof, Loretta Feris, sê hulle is daartoe verbind om ʼn onderrig-ervaring te bied wat kritiese denke en etiese redevoering aanmoedig, en noodsaaklike vaardighede slyp vir die moderne werksmag.
# Die Universiteit Stellenbosch se studentegeleide Move4Food-veldtog bied hulp aan studente wat nog nie hul Nasionale Studente Finansiële Hulpskema-befondsing ontvang het nie. Studente ontvang nie-bederfbare kos en koopbewyse, wat onmiddellike verligting bied aan diegene wat sukkel terwyl hulle wag vir die laat NSFAS-geld. Candice Egan van Move4Food sê die fokus van die projek is om ‘n omgee-gemeenskap te skep wat bewus is van die behoeftes van sy studente en hulle bystaan.
# Die Universiteit van KwaZulu-Natal het studente se uitsonderlike prestasies wat uitnemendheid inspireer, gevier deur die “Kollig op Grootsheid: Mees Besielende Student-toekennings”. Finaliste in die vier kategorieë, naamlik akademie, sport, klubs en verenigings, is uit benoemings deur hulle portuurgroep gekies. Een van die ontvangers is ʼn onlangs gekwalifiseerde mediese dokter, Athingahangwi Ramabulana, wat ook eienaar van Athinga’s Corner is. Dit is ʼn kombuis wat gesonde, tuisgekookte etes aanbied.
# En, die Oos-Kaapse regering moedig skole aan om die wêreld se grootste drywende boeke-mark, Logos Hope, in Gqeberha te besoek. Die boeke-mark op die skip bied ʼn uitgebreide versameling van meer as vyf-duisend titels teen bekostigbare pryse. Meer as 36-duisend mense het die boeke-mark in 2016 besoek toe die skip in Suid-Afrika aangedoen het. Logos Hope is tot die 17de van die maand in Gqeberha se hawe oop vir die publiek. Toegang vir persone tussen 13 en 64 jaar is 10-rand elk. Kinders van 12 en jonger en mense ouer as 65 se toegang is gratis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….