Goeie Nuus
BULLETIN 6 Mei
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, het die Sportster van die Jaar-toekenning en die toekenning as gewildste sportster opgeraap op die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings in Noordwes. Sy spanmaat Eben Etzebeth is aangewys as Sportman van die Jaar en Manie Libbok as Nuweling van die Jaar. Oud- Bok-afrigter Jacques Nienaber is as Afrigter van die Jaar bekroon en die Bokke is aangewys as Span van die Jaar. Ander wenners sluit in die seevaarder Kirsten Neuschäfer wat Sportvrou van die Jaar is en die naelloop- en verspringatleet, Mpumelelo Mhlongo, wat vanjaar die Gestremde Sportman-toekenning ontvang het.
# AfriForum se Veiligheidstudie-trust sê hommeltuig-opleiding bied nie net ‘n opwindende nuwe rigting vir studente nie, maar is ʼn noodsaaklike vaardigheid wat in die toekoms al belangriker gaan word. Die organisasie het verlede week sy eerste Skerpskut-skietgeleentheid buite Pretoria aangebied. Die geleentheid bied elke jaar aan sowat ʼn dosyn studente toegang tot die snelgroeiende wêreld van hommeltuig-tegnologie asook tientalle loopbaanmoontlikhede. Jacques Broodryk van AfriForum sê die trust slaan ʼn nuwe rigting in met hommeltuig-opleiding:
# Die toekoms van Xhosa-mode sal ‘n mengsel wees van Westerse ontwerpe en Xhosa-estetiese kenmerke, vir kulturele verteenwoordiging, terwyl eiesoortigheid steeds behoue bly. Dit is die mening van Zandile Zamela wat haar meestersgraad in Verbruikerswetenskap doen aan die Universiteit van Pretoria. Sy spesialiseer in Klerebestuur. Sy het in haar meestersgraadnavorsing probeer om die uitwerking te bepaal van verwestering op Xhosa-vroue se skoonheidstandaarde en kleredrag-gewoontes. Zamela sê sy wil deel wees van die behoud van haar Xhosa-kultuur binne die moderne samelewing.
# Die wêreld se grootste drywende boekskou is in Durban. Die MV Logos Hope-skip sal boek-geesdriftiges van Woensdag tot die tweede van volgende maand by die Nelson Mandela-terminaal verwelkom. Die vaartuig het die stad laas in Maart 2016 besoek. Die woordvoerder vir die eThekwini-munisipaliteit, Gugu Sisilana, sê Durban Toerisme sal die boekskou gebruik om die stad as ‘n wêreldklas-bootvaart-bestemming te bevorder:
# En, sowat 1,6-miljoen aanhangers het ‘n gratis konsert van Madonna bygewoon op Brasilië se beroemde Copacabana-strand. Die vertoning was die laaste konsert op die 65-jarige se Celebration-toer van 80 vertonings regdeur Europa en Noord-Amerika. Madonna het langer as twee uur liedjies soos Like a Prayer, Vogue en Express Yourself gesing. Die Brasiliaanse popkunstenaars Anitta en Pabllo Vittar, asook jonger musikante van samba-skole in Rio de Janeiro, het ook opgetree.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….