Goeie Nuus
BULLETIN 27 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Malaya in Maleisië het ‘n eredoktorsgraad in Internasionale Betrekkinge aan president Cyril Ramaphosa toegeken. Die instelling sê dis uit erkenning van sy uitstaande leierskap, bydraes tot internasionale betrekkinge en toewyding aan globale ontwikkeling. Hy is slegs die tweede Suid-Afrikaner, na oudpresident Nelson Mandela, wat die onderskeiding ontvang het. Ramaphosa sê die eerbewys gee erkenning aan die stryd van die Suid-Afrikaanse nasie vir demokrasie en vryheid:
# Die Oos-Kaapse regering het die nuwe Mej Suid-Afrika, Qhawekazi Mazaleni, gelukgewens. Die 24-jarige, wat in die Falakahla-neersetting in Dutywa gebore en in Oos-Londen getoë is, is Saterdag gekroon tydens ‘n spog-seremonie in die SunBet Arena in Menlyn, Pretoria-Oos. Nog ‘n Oos-Kaapse skoonheid, Melissa Nayimuli, is die nuwe Mej Heelal SA en sal die land in Thailand verteenwoordig. Die provinsiale regeringswoordvoerder, Khuselwa Rantjie, sê die twee is ware ambassadeurs vir die Oos-Kaap:
# ‘n Senior professor in Openbare Reg, Nomthandazo Ntlama-Makhanya van die Fort Hare-universiteit is erken as een van Suid-Afrika se invloedrykste vroue en het die Mail & Guardian Power of Women-toekenning in die kategorie Reg en Geregtigheid gewen. Die universiteit sê die eerbewys is ‘n gepaste erkenning van Ntlama-Makhanya se dekade-lange akademiese werk, mentorskap en diens in die regsberoep. Die universiteit sê die toekennings vereer vroue wat merkwaardige bydraes reg oor Suid-Afrika lewer.
# Die Stad Kaapstad se Direktoraat Energie het aangekondig dat sy Paardevlei 132-kilovolt-skakelstasie twee groot toekennings ontvang het. Die stasie het silwer ontvang op die Internasionale Projekbestuursvereniging Globale Projekuitnemendheidstoekennings 2025 en was naaswenner op die Projekbestuursberaad se Prestige-toekennings 2025. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê hierdie toekennings demonstreer uitnemendheid in infrastruktuurlewering:
# En ten slotte: Die Japannese animasieprent Chainsaw Man – The Movie: Reze Arc was in sy openingsnaweek bo-aan die Amerikaanse lokettrefferlys. Die jongste rolprent van Sony se Crunchyroll volg die avonture van Denji, gespeel deur Kikunosuke Toya, ‘n tiener en demoonjagter. Universal se Black Phone 2 het na die tweede plek teruggesak, met Regretting You in die derde plek. Disney se biografiese drama oor Bruce Springsteen, Deliver Me from Nowhere ,moes in sy openingsnaweek met die vierde plek tevrede wees, en Disney se wetenskapsfiksie Tron: Ares was vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….