Goeie Nuus
BULLETIN 17 Oktober 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Tafelberg en sy beroemde sweefspoor is benoem vir twee wêreldtitels op vanjaar se Wêreld-reistoekennings. Tafelberg is benoem in die kategorie as die wêreld se voorste toeriste-trekpleister en die sweefspoor vir die wêreld se voorste sweefspoor-rit. Hulle is die enigste Suid-Afrikaanse benoemdes vanjaar. Die besturende direkteur van die Tafelberg-sweefspoormaatskappy, Wahida Paker, moedig Suid-Afrikaners aan om teen die spertyd van 26 Oktober te stem vir die sweefspoor, wat 96-jaar en meer as 32-miljoen besoekers vier.
# Die 2025 Sauvignon Blanc SA Top 10-wenners is aangekondig nadat 167 wyne van 98 produsente beoordeel is. Die wenners sluit in Ataraxia Sauvignon Blanc 2025 uit die Hermanus-omgewing, Robertson se Rietvallei John B Sauvignon Blanc 2025, en Merwida Sauvignon Blanc 2025 uit Breedekloof. Sauvignon Blanc SA se voorsitter, Elunda Basson, sê die wenwyne weerspieël die vakmanskap van Suid-Afrikaanse wynmakers met tekstuurvorming, verskillende vlakke en die verouderingspotensiaal van dié edel druif.
# ‘n Tweedejaarstudent in BSc-Dierewetenskappe aan die Noordwes-universiteit, Lesego Molema, is vir die Suid-Afrikaanse Landboutoekennings benoem. Hy is die eerste student van die universiteit wat erkenning kry by hierdie nasionale toekennings wat uitnemendheid, vernuwing en leierskap in boerdery, landbousake en kookkuns vereer. Molemo sien sy benoeming as ʼn platform om voorspraak te doen vir die jeug se betrokkenheid by landbou, en studente te motiveer om leierskap en vernuwing in die veld na te streef. Die toekenningsgeleentheid vind op 7 November in Durban plaas.
# Die Durbanse Universiteit vir Tegnologie se Innobiz-sentrum vir Entrepreneurskap en Innovering het as deel van ‘n sterk Suid-Afrikaanse afvaardiging aan die Agro-interskole-kompetisie in Rusland deelgeneem. Die geleentheid het studente van Rusland en vennootlande insluitend Suid-Afrika, Zimbabwe, Ethiopië, Belarus, Kazakstan, China en Indië, byeengebring. Span Suid-Afrika, bestaande uit Ntwenhle Malinga, Kusas’elihle Ndawonde en Anitha Chiya, het ‘n aanbieding oor die land se ryk landbou-landskap gelewer.
# En ten slotte: Met die eindeksamen om die draai en die klas van 2025 voor hul finale toets, bied die Stad Kaapstad se biblioteke opnuut aan leerders ‘n ondersteunende studie-omgewing. ‘n Aantal biblioteke sal leerders bystaan deur toegewese ruimtes te skep waar hulle kan studeer. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die ondersteuningsprogram vir matrieks bied ruimte en toegang tot hulpbronne, insluitend studiegidse, en die aanlyn SmartCape-diens, waar hulle toegang tot vorige eksamenvraestelle kan kry:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….