Goeie Nuus
BULLETIN 10 Oktober 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Venezuela se opposisieleier, Maria Corina Machado, het 2025 se Nobelprys vir Vrede gewen vir haar dapper stryd om demokrasie in haar land te herstel. Wêreldwye aandag rondom vanjaar se prys het ook gevolg op bespiegelings oor die Amerikaanse president, Donald Trump, se langdurige strewe om die eer te beklink. Jorgen Watne Frydnes van die Nobelkomitee beskryf Machado as ‘n verenigende leier wat stembriewe bo koeëls verkies in die stryd vir vrye en regverdige verkiesings:
# Die Stad Johannesburg is een van die finaliste vir die 2025 Bloomberg Filantropiese toekennings vir plaaslike leiers. Die toekennings erken vernuwende beleidsrigtings, projekte en programme van plaaslike leiers wat oor die afgelope drie jaar klimaatverandering bevredigend aangepak het. Burgemeester Dada Morero sê die erkenning is duidelike bevestiging van die metro se Billie Oorgangs-benadering. Hy sê hulle lei ‘n gedesentraliseerde, klimaatbestande en insluitende energiestelsel wat waardigheid, maatskaplike voordele en ‘n beter lae koolstof-toekoms na randgemeenskappe sal bring.
# Marnus Botha van Somerset-Wes is die wenner van die Stad Kaapstad se eerste Wear the Hope-uitdaging. Die kompetisie het lede van die gemeenskap aangemoedig om idees by te dra wat die metro se veerkragtigheid, kulturele uiteenlopendheid en gees van saamhorigheid weerspieël. Botha se wenkonsep het vir die beoordelaars uitgestaan vir sy opregte simboliek en vermoë om ikoniese elemente van die metro se erfenis, bakens en natuurlike skoonheid saam te weef. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê Botha se ontwerp verteenwoordig die hart en siel van Kaapstad.
# Ses volledige beurse ter waarde van vyf-miljoen-rand is op vanjaar se Eskom Ekspo-Internasionale Wetenskapskou toegeken vir studies in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Die beste jong wetenskaplikes van Suid-Afrika en ander lande soos Lesotho, Namibië, Zimbabwe, Ierland, Indië en Rusland het deelgeneem. Die wenners van die beurse kom van KwaZulu-Natal, Limpopo en die Vrystaat. Die ingenieurs- en tegnologie-reuse Babcock International en Siemens Energy het ook ses volledige beurse met ‘n gesamentlike waarde van 6,2-miljoen-rand toegeken.
# En dokters in China het ‘n geneties-aangepaste varklewer oorgeplant in ‘n 71-jarige man en hy het 171 dae ná die prosedure geleef. Kenners sê die nuwe studie dui aan vark-na-mens leweroorplantings lyk belowend vir die gebruik om mense met ‘n ernstige lewertoestand te help om aan die lewe te bly tot hul eie lewer herstel, of tot wanneer ‘n menslike lewer beskikbaar is. Wetenskaplikes ondersoek reeds vir dekades alternatiewe, insluitend varkorgane, omdat dit soortgelyk aan menslike organe is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….