Goeie Nuus
BULLETIN 23 April
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Geneesmiddels voldoen lankal nie meer aan die behoeftes van pasiënte in Afrika nie. Dít is die mening van die direkteur van die Sentrum vir die Ontdekking en Ontwikkeling van Holistiese Middels aan die Universiteit van Kaapstad, professor Kelly Chibale. Hy sê Afrika verteenwoordig 15-persent van die wêreld se bevolking, hoewel 20-persent van al die siektes in die wêreld hier voorkom. Hy sê dit beteken medisyne het Afrika se inwoners oor die jare heen nie genoeg bevoordeel nie. Chibale sê kunsmatige intelligensie kan mediese navorsing beduidend help om geneesmiddels vir Afrika te skep.
# Die Stad Kaapstad sê sy leierskapsprogram in samewerking met die Kaapse klere- en tekstielgroepering gaan voort om ‘n verskil in jongmense se lewens te maak. Ses-en-sestig jong leerders wat deelgeneem het aan ʼn program wat deur die stad befonds is, het onlangs gegradueer. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die klere- en tekstielvervaardigingbedryf dra 3,1-miljard by tot Kaapstad se ekonomie:
# Die L’Oréal-stigting het die sesde uitgawe van die Women in Science Young Talent Search in Suid-Afrika bekendgestel. Dis ʼn veldtog van die stigting en die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie, UNESCO. Die program het sedert sy ontstaan toelaes van meer as drie-miljoen-rand aan 32 uitstaande vroulike navorsers toegeken en finansiële ondersteuning gebied vir toonaangewende navorsing. Vroulike navorsers jonger as 40 jaar kan aansoek doen. Die sluitingsdatum is die 19de van volgende maand.
# Vier jong wetenskaplikes gaan Suid-Afrika verteenwoordig op vanjaar se internasionale kompetisie vir wetenskap, tegnologie en ingenieurswese in Bali, Indonesië. Rikyle Andrio Jordaan, Husna Docrat, S’qiniseko Mpilenhle Mpontshane en Maria Isabella Lutz is in Oktober verlede jaar op die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes se internasionale wetenskapskou deur ʼn paneel akademici en beroepspersone aangewys. Eskom Ekspo se uitvoerende direkteur, Parthy Chetty, sê die vier sal ʼn geleentheid hê om hulle navorsingsprojekte in Bali uit te stal:
# En, dit is vandag Wêrelddag vir Boeke en Kopiereg, ter bevordering van die vermaak van boeke en lees en om te beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om intellektuele eiendom te beskerm deur kopiereg-wetgewing. Die dood van die beroemde skrywers William Shakespeare en Miguel de Cervantes word vandag herdenk. Die direkteur-generaal van die Verenigde Nasies se organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur, Audrey Azoulay, sê boeke moet die taalverskeidenheid van die wêreld weerspieël sodat hulle aan hul doel kan beantwoord.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….