Goeie Nuus
BULLETIN 3 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Solidariteit het ‘n ooreenkoms met die Amerikaanse onderneming Propay Prime beklink om Suid-Afrikaanse rekenaarvaardighede uit te voer, wat burgers toelaat om vir Amerikaanse ondernemings te werk terwyl hulle hier woon. Die plan gaan na na sektore soos finansies, ingenieurswese, onderwys en ontwerp uitgebrei word. Solidariteit se uitvoerende hoof, Dirk Hermann, beklemtoon die ooreenkoms maak dit moontlik om duisende werksgeleenthede sonder rassebeperkings te skep, deur van moderne tegnologie gebruik te maak en in dollar te verdien.
# Die Stad Kaapstad sê hy ondersteun oor die volgende drie weke vyf sokkertoernooie op grondvlak. Dit sluit in die 14de Rygate Cubs Festival waaraan 257 spanne van 98 klubs deelneem, die Kapstadt-beker en die eindronde van die SAFA Cape Town Coke Cup. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê hierdie toernooie gee aan jong spelers die kans om uit te blink, te droom en hul eerste tree te gee op die pad om op die hoogste vlak mee te ding:
# KPMG South Africa, in samewerking met die Universiteit van Pretoria, het die Professor Wiseman Nkuhlu KPMG-beurs bekendgestel. Dis ter ere van die KPMG-voorsitter, Wiseman Nkuhlu, se aftrede. Die beurs van drie jaar is beskikbaar vir pas gekwalifiseerde swart Suid-Afrikaanse geoktrooieerde rekenmeesters en wil die verteenwoordiging van jong doktorale rekenkunde-studente en -professors vergroot. Die universiteit sê die beurs wil toekomstige geslagte in die rekeningkundige en ouditberoep inspireer, en die volgende geslag sakeleiers ondersteun.
# Die departement van Beeldende Kunste van die Nelson Mandela Universiteit bied Saterdag ‘n spesiale kunstenaarstoer in die Central Bird Street Galery aan. Dis deel van Trace and Transition: ‘n personeeluitstalling deur die departement van Beeldende Kunste ter viering van die galery se tiende bestaansjaar. Daar sal ‘n eklektiese mengsel van die personeel se werk wees, insluitend skilderye, beeldhouwerk en keramiek, fotografie, drukwerk, tekstiel, video, mode-ontwerp, grafiese ontwerp en selfs 3D-drukwerk. Die universiteit sê die uitstalling bring ‘n uiteenlopende groep kunstenaars saam wat die verloop van tyd ondersoek.
# Die talentvolle Suid-Afrikaanse aktrise, model en filantroop, Nomzamo Mbatha, is ingesluit op Time Magazine se 2025 TIME100 Next-lys. Die lys gee erkenning aan opkomende leiers en invloedryke mense wat die toekoms vorm. Mbatha het deur haar rol as die VN-hoëkommissaris vir vlugtelinge se Welwillendheid-ambassadeur bekend geraak as kampvegter vir vlugtelingregte. Sy is in die voorspraakkategorie saam met mense soos Rose Njeri Tunguru, ‘n programmatuurontwikkelaar in Nairobi, die LGBTQIA+ aktivis Viktoria Radvanyi, en die Soedannese digter en filantroop Emi Mahmoud.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….