Goeie Nuus
BULLETIN 22 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die 7de jaarlikse Tshwane Varsity-hackathon begin vandag in die veeldoelige saal van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Ga-Rankuwa-kampus. Die geleentheid sal van die slimste en mees kreatiewe rekenaar-slimkoppe van regoor die metro byeenbring vir ‘n intensiewe kompetisie van 48-uur wat op innovasie en probleemoplossing sal fokus. Altesaam 150 studente van TUT, Tuks, Unisa en die Sefako Makgatho-universiteit vir Gesondheidswetenskappe sal daaraan deelneem. Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, sê die hackathon is ‘n fantastiese geleentheid vir studente:
# Die DA in die Wes-Kaap verwelkom CapeNature se 11de jaarlikse Toegangsweek wat tot Vrydag duur en waar mense gratis toegang kry tot sekere reservate in die provinsie. CapeNature-reservate wat aan Toegangsweek deelneem, sluit in Bird Island, Hottentots-Holland, Outeniqua en Assegaaibosch. ‘n DA-woordvoerder, Dave Bryant, sê buiten die skouspelagtige natuurtonele, beskerm hierdie reservate sommige van Suid-Afrika se mees bedreigde spesies en kwesbare ekostelsels:
# Swem: Span Suid-Afrika se Paralimpiese swemmer, Christian Sadie, het silwer gebuit in die mans se S13-200-meter individuele wisselslag op die eerste dag van die Wêreld Para-swemkampioenskap in Singapoer. Die 27-jarige Sadie het die Afrika-rekord in die eindpoging tot twee-minute-04,03-sekondes verbeter. Inaki Basiloff van Argentinië het goud opgeraap en Aleksei Ganiuk, ʼn neutrale Paralimpiese atleet, het brons gewen. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Nathan Hendricks, was sewende in die mans S13-100-meter vlinderslag. Hy het egter in die uitdunne ʼn Afrika-rekord van 58,46-sekondes opgestel.
# Atletiek: Suid-Afrika het ‘n bronsmedalje in die mans 4×400-meter-aflos op die laaste dag van die Wêreldatletiekkampioenskap in Tokio verower. Botswana het goud gewen en die eerste Afrika-wenners van die byeenkoms geword. Span SA met Lythe Pillay, Udeme Okon, Wayde van Niekerk en Zakithi Nene het ná die VSA klaargemaak. Intussen het die Amerikaner, Melissa Jefferson-Wooden, slegs die tweede vroulike naelloper na Shelly-Ann Fraser-Pryce geword om die naelloop-driekuns te voltooi. Sy het die 100- en 200-meter gewen, en sy was deel van die seëvierende vroue 4×100-meter-span.
# En ten slotte: Die Japanese fliek, Demon Slayer: Kimetsu no Yaiba Infinity Castle, is steeds nommer een by Noord-Amerikaanse kaartjiekantore. Die film is die eerste van ʼn trilogie oor ʼn seun wat demone jag om sy gesin te wreek en ʼn oplossing te vind vir sy suster wat in ʼn demoon verander het. Him, van Universal and Peele se Monkeypaw, is tweede en New Line se The Conjuring: The Last Rites is derde. Lionsgate se The Long Walk en Focus se Downton Abbey: The Finale voltooi die topvyf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….