Goeie Nuus
BULLETIN 18 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die sesde Nampo Kaap-ekspo het verlede week ‘n rekordgetal van 49-duisend-326 besoekers na Bredasdorp in die Wes-Kaap gelok. Die geleentheid bring produsente, landbou-ondernemings, beleidmakers en die breër gemeenskap bymekaar in ‘n atmosfeer wat sowel vernuwing en tradisie vier. Adjunkpresident Paul Mashatile het die ekspo besoek, waar hy gevra het vir samewerking in landbou, voedselsekerheid en ondersteuning vir opkomende boere. Nampo se hoofdirekteur, Dirk Strydom, sê die groei van Nampo-Kaap beklemtoon sy noodsaaklikheid as platform vir produsente in die Wes-Kaap se wintergraangebied.
# ‘n Koningin van die Zoeloe-nasie, ʼn raadslid van eThekwini en ʼn ekonoom wat al haweloos was is onder die een-duisend-521 studente wat vandag grade ontvang op die Universiteit van KwaZulu-Natal se lente-gradeplegtigheid. Die vierde vrou van wyle koning Goodwill Zwelithini kaBhekuzulu, koningin Thandekile MaNdlovu Zulu, ontvang ʼn doktorsgraad in Sake-administrasie vir haar studie oor ʼn natuurlike suikerplaasvervanger in Kenia. Die speaker van die eThekwini-munisipaliteit, Thabani Nyawose, ontvang sy meestersgraad in Staatsadministrasie.
# Twee studente van die Rhodes-universiteit se departement Beeldende Kunste, Snelihle Maphumulo en Sarah Volker, is wenners van die Sasol New Signatures-kompetisie vir beeldende kunste. Die kompetisie bied ‘n wegspringplek vir opkomende visuele kunstenaars om nasionale blootstelling te verkry, bekragtig hulle as professionele kunstenaars en bied ‘n vastrapplek in die mededingende kunswêreld. Maphumulo het die Meriete-toekenning ontvang vir haar werk, wat ‘n kragtige dialoog is met haar voorvaders. Volker se beeldhou-installasie, Taut, Tethered, and Torn, ondersoek die spanning tussen ‘n danser se liggaam en gees.
# Samewerking tussen Read with Wimpy en Ladles of Love het bygedra dat meer as een-duisend-200 splinternuwe boeke oorhandig is aan net meer as 600 kinders in 17 vroeëkinderjare-ontwikkelingsentrums in Johannesburg. Die samewerking is gerig op twee dringende kwessies: honger en geletterdheid. Elke kind ontvang twee boeke wat versigtig gekies is: een in hul moedertaal om basiese leesvaardighede en kulturele identiteit te bou, en een in Engels. Die oorhandiging van die skenking van sesduisend boeke, vind in drie provinsies plaas: Gauteng, die Wes- en die Noord-Kaap.
# En ten slotte: Die fliekmaker Spike Lee, Warner Brothers se uitvoerende hoof, Pamela Abdy, die klankbaan-komponis Nicholas Britell en die draaiboekskrywer Will Tracy is van die mense wat vereer word op vanjaar se Montclair-rolprentfees in Amerika. Lee word vereer vir sy bydrae as rolprentmaker terwyl Adby die Visioenêre Toekenning vir haar loopbaan ontvang deur flieks soos Sinners en Weapons uit te lig. Britell, wat musiek vir die fees se openingsaand-rolprent, Jay Kelly, geskryf het, word met die Komponis-toekenning vereer. Tracy ontvang die Draaiboekskrywer-toekenning en Shih-Ching die Deurbraakregisseurs-toekenning.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….