Goeie Nuus
BULLETIN 16 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die eThekwini-munisipaliteit sê alles is gereed vir die 14de jaarlikse Durbanse Modeskou wat van môre tot Vrydag in die Durbanse Uitstalsentrum plaasvind. Vanjaar se tema is Die Ontwaking. Ongeveer 60 gevestigde en opkomende ontwerpers gaan hul verbeeldingryke versamelings op een van Afrika se invloedrykste modeverhoë onthul. Die bekende TV- en radiopersoonlikheid Somizi Mhlongo sê hy gaan sy reeks vir vroue waarna baie uitgesien is, die Sompire Femme, op die skou bekendstel:
# Die Nelson Mandela Universiteit, in samewerking met Google, het die Digitale Ubuntu-kuberveiligheids-Kunsmatige Intelligensie-seminare vir studente bekendgestel. Die projek wil 100 studente help om kuberveiligheid en kunsmatige intelligensievermoë te bou. Studente sal geleentheid kry om meer te leer oor kuberveiligheid en loopbane in dié veld te ondersoek. Die program word aangebied deur die universiteit se Afrika-spilpunt vir Jeug-entrepreneurship en Maatskaplike Vernuwing. Die universiteit sê ontwikkelende tegnologieë soos kunsmatige intelligensie skep nuwe geleenthede om vernuwende oplossings te vind om die samelewing te verbeter.
# ‘n Student aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Fakulteit Ingenieurswese en die Bou-omgewing, Nick Xolani Nkosi, verteenwoordig Suid-Afrika tans op die derde Internasionale Geologiese Kampioenskap in Rusland. Hy is een van ses Suid-Afrikaanse studente wat teen 250 deelnemers uit 17 Russiese streke en 14 ander lande meeding. GeoChallenge is ontwerp vir jong geologie-beroepslui en -studente, om loopbane in geologie te bevorder, vaardighede te verbeter en samewerking met moontlike werkgewers aan te moedig. Nkosi sê die kompetisie is ʼn waardevolle platform vir internasionale blootstelling.
# Hisense Suid-Afrika het 100 jongmense van Atlantis, Kaapstad, verwelkom vir ‘n jaarlange leerlingskap- en vaardigheidsontwikkelingsprogram op sy Wes-Kaapse vervaardigingsaanleg. Die projek, gemik op werklose jongmense tussen 18 en 28 jaar oud, kombineer klaskameropleiding met voltydse werkplek-ervaring en lei tot ‘n SETA-geakkrediteerde kwalifikasie. Hisense sê die program bemagtig deelnemers met gevorderde vervaardigings- en digitale vernuwings-vaardighede, wat werkloosheid aanpak terwyl hulle voorberei word om wêreldwyd te kan meeding.
# En ten slotte: Die 77ste Emmy-toekennings, wat Sondagaand gehou is, het die meeste kykers sedert 2021 gelok. CBS se uitsending het 7,4-miljoen kykers gelok, ‘n toename van agt persent van die 6,9-miljoen kykers van verlede jaar se seremonie op ABC. Die toekenningsgeleentheid het 1,6 miljoen vermeldings op sosiale media ontvang en was vir sewe uur lank die nommer een in Amerika. Vanjaar se seremoniemeester was Nate Bargatze en Adolescence, The Studio en The Pitt het die hoogste eerbewyse ontvang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….