Goeie Nuus
BULLETIN 12 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die bekroonde Suid-Afrikaanse rolprente The Heart is a Muscle en Carissa wys hierdie maand in gekeurde teaters in Kaapstad en Johannesburg. Dis deel van hul reis na die Oscars aangesien een van hulle benoem kan word vir beste rolprent in die kategorie Beste Internasionale Rolprent op die 98ste Academy Awards. The Heart is a Muscle wys van vandag in Rosebank, Johannesburg, en die V&A Waterkant in Kaapstad en sal van Maart landwyd vertoon word. Carissa is van volgende Vrydag te sien.
# Die plaaslike musiekgroep Mango Groove se 40ste herdenkingskonsert, Memories and Moments, vind Sondag in die Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuin in Johannesburg plaas. Dis die groep se eerste groot optrede in die stad in vyf jaar en volg op hul uitverkoopte herdenkingskonsert in Kirstenbosch, Kaapstad, in Januarie. Hoofsangeres Claire Johnston sê die gehoor kan ‘n nostalgiese viering verwag met treffers, stories en visuele materiaal, alles saamgevat in ʼn reuse-partytjie in Mango Groove-styl.
# Die eerste Suid-Afrikaanse Modetoekennings wat die vierde van volgende maand in Sandton, Johannesburg, aangebied word, kondig die aankoms van die Wêreldmodetoekennings in Afrika aan. Die legendariese ontwerper David Tlale ontvang ‘n lewensprestasie-toekenning, terwyl Laduma Ngxokolo vereer word vir sy wêreldwye bydrae tot mode. Thebe Magugu, Rich Mnisi en Bonang Matheba tel onder die benoemdes. Daar kan nou gestem word en die opbrengs sal na die Diamant-kinderstigting gaan.
# ʼn Afgetrede skoolhoof, Alui Tshigabe, het sy lewenslange droom vervul deur ʼn doktorsgraad binne slegs 26 maande te verwerf, al het baie mense getwyfel of hy dit binne so ʼn kort tydjie sou regkry. Die 68-jarige het sy PhD in Filosofie aan die Universiteit van Venda verwerf. Hy sê baie mense het gesê dit sal vier jaar neem om die doktorsgraad te voltooi, maar hy was vasbeslote om hulle verkeerd te bewys. Tshigabe sê hy werk nou aan ʼn boek oor die natuurlewe in die Krugerwildtuin.
# En ten slotte: ‘n Nadoktorale student van die Durbanse Universiteit van Tegnologie, Kehinde Adewumi, is vereer met die gesogte toekenning vir opkomende vakkundiges van die Common Ground Research Networks in Amerika. Ontvangers word gekies op grond van die uitwerking en potensiaal van hul navorsing, publikasies en betrokkenheid by die gemeenskap. Adewumi is ‘n na-doktorale genoot van die Departement van Skone Kunste en Juweliersontwerp en sê dit voel goed om erken te word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….