Goeie Nuus
BULLETIN 11 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Restaurant in Kaapstad, Wiggle Room, het ‘n eerste-van-sy-soort-eetkonsep bekendgestel waar gaste die spyskaart bepaal deur hulle Spotify-speellyste. Volgens Good Things Guy verander die eetplek met 12-sitplekke elke twee tot drie dae hulle spyskaart. Een aand word garnaal-roosterbrood aangebied wat soos album-kuns lyk, en daarna ‘n gedroogde gereg wat smooth jazz weerspieël. Sjef Ishmael Amos sê die gaste eet nie net nie, hulle bou bande en ontdek, want die speellys bepaal die spyskaart en atmosfeer. Elke ete is ‘n ondervinding van verweefde musiek en kos.
# Die Universiteit van die Witwatersrand het ‘n kunsmatige intelligensie- en Afrika-musiekprojek bekendgestel. Die projek wil skeppende mense aanmoedig om die oorvleueling van moderne tegnologie en Afrika-musiektradisies en -klanke te ondersoek. Musikante, vervaardigers, komponiste en musiekonderwysers van reg oor Afrika word uitgenooi om voorstelle vir KI-gedrewe musiekprojekte voor te lê. Persone wat gekies word, sal vier maande lank 30-duisend-rand per maand ontvang en saam met ʼn KI-ingenieur en program-raadgewer werk om hulle unieke idees oor ses maande te ontwikkel.
# Die finaliste vir die 14de Eco-Logic Toekennings is amptelik aangekondig. Dit erken prestasies in 12 kategorieë, insluitend oplossings vir klimaatverandering, waterbesparing, sirkulêre ekonomiese projekte, eko-modes en gemeenskapgedrewe projekte. Die finaliste sluit in Sankub, Wildlife ACT Innovations, Re.Bag.Re.Use en die Volhoubaarheidinstituut. Die stigter van die toekennings, David Parry-Davies, sê die finaliste verteenwoordig die beste Suid-Afrikaanse eko-kampioene. Die wenners sal op 27 Oktober aangekondig word.
# eThekwini-munisipaliteit sê ʼn uiteenlopende groep plaaslike kunstenaars en klein sakeondernemings het by die Galleria-opwipmark begin handeldryf. Dis ʼn openbaar-privaat samewerkingspoging tussen eThekwini en die Galleria-winkelsentrum wat daarop gemik is om klein sakeondernemings te ondersteun deur sigbaarheid en marktoegang. Vanjaar se mark spog met meer as 12 plaaslike entrepreneurs, en bied alles van rottangmandjies en Afrika-uitrustings en sakke, tot artikels van herwinde plastiek. Die munisipaliteit sê tydens verlede jaar se oefenlopie het tien klein sakeondernemings saam sowat 350-duisend-rand wins gemaak.
# En ten slotte: ‘n Entstof om chlamydia in Australië se koala-bevolking te behandel, is goedgekeur in die eerste projek van sy soort ter wêreld. Navorsers het die entstof ontwikkel om die buideldier te beskerm. Chlamydia is verantwoordelik vir die helfte van koala-sterftes in die land se wilde bevolkings, wat hoofsaaklik in die bloekomwoude langs die ooskus voorkom. Die wollerige diertjies is ‘n embleem van Australiese kultuur. Hulle is ook kwesbaar vir habitatverlies, aanvalle deur ander diere en word deur motors raakgery. Koalas is in 2022 tot kritiek-bedreig verklaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….