Goeie Nuus
BULLETIN 18 April
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Pretoria het weereens uitstekend gevaar in vanjaar se QS-ranglys vir universiteitsvakke. Die QS-vakranglys dek 55 spesifieke vakgebiede wat dan in vyf breër vakgebiede gegroepeer word: Kuns en Geesteswetenskappe; Ingenieurswese en Tegnologie; Lewenswetenskappe en Medies; Natuurwetenskappe; en Maatskaplike Wetenskappe en Bestuur. Sestien van die universiteit se vak-aanbiedinge is onder die 450 top-aanbiedinge wêreldwyd en 18 onder die topdrie onder Suid-Afrikaanse universiteite.
# Kaapstad se onderburgemeester, Eddie Andrews, en die wenner van die tweede seisoen van The Voice South Africa, Craig Lucas het albei gegradueer aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Lucas is bekend vir sy musiektalent en het ‘n Meestersgraad in Ontwikkelingstudies ontvang. Hy wil graag in die nabye toekoms ‘n doktorsgraad aandurf. Sy tesis het gefokus op jeug-verwagtinge in Bonteheuwel. Andrews, ‘n gewese Springbok-rugbyspeler, het ‘n Honneursgraad gekry in BA Administrasie:
# Die Hou Pietermaritzburg Skoon-aksiegroep het die Olifantbank-projek bekendgestel. Dit behels dat ‘n olifant uit herwinbare materiaal gemaak en vriende, familie, die gemeenskap of skole dan genooi word om sy pens met ʼn 20-rand-noot of leë blikkies te vul. Die groep se uitvoerende direkteur, Lara Edmonds, sê die fondse wat hulle insamel, sal gebruik word om Pietermaritzburg skoon, netjies, mooi en groen te maak.
# Glimlagweek nader sy einde by die Robert Mangaliso Sobukwe Hospitaal in die Noord-Kaap, waar 25 kinders se glimlagte ná rekonstruktiewe operasies herstel is. In die meeste gevalle is gesplete lippe en verhemeltes reggemaak. Sedert die Glimlag-stigting se ontstaan in 2022, is meer as vier-duisend kinders uit minderbevoorregte gemeenskappe hiermee gehelp. Die stigting se uitvoerende hoof, Tarri Parfitt, sê skenkings is noodsaaklik vir die volhoubaarheid van sulke belangrike veldtogte.
# En, die Regeringskommunikasie en -inligtingsdiens het HOT 102.7 FM gelukgewens met sy erkenning op vanjaar se New Yorkse radio-toekennings. Die stasie het ‘n bronsmedalje gekry in die kategorie Beste Nuusverslag in Menslike Belangstellings vir sy reeks, Beginner’s Guide to Online Dating. Die adjunk-direkteur-generaal van die inligtingsdiens, Nomonde Mnukwa, loof die stasie se prestasie, wat Suid-Afrika se talent en media-verskeidenheid op die wêreldverhoog uitlig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….