Goeie Nuus
BULLETIN 2 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van die Witwatersrand se Instituut vir Masjien-intelligensie en Neurale Ondersoek het 17,6-miljoen-rand se befondsing van Google.org ontvang. Die instituut, wat in November verlede jaar gestig is, huisves sommige van Afrika se voorste navorsers in fundamentele kunsmatige intelligensie. Dit word gelei deur professor Benjamin Rosman, wat in die kategorie ‘Denkers’ van TIME-tydskrif se TIME100 KI 2025-lys aangewys is. Wits sê die finansiële steun sal die instituut se ontwikkeling van vermoë en netwerkprogramme ‘n hupstoot gee.
# Die Stad Kaapstad sê die Toerisme-ontwikkelingsraamwerk, wat binnekort gepubliseer word, is die metro se aksieplan om die besoekers-ekonomie uit te brei en te versterk. Volgens die jongste verslag oor die Ekonomiese Waarde van Toerisme het Kaapstad verlede jaar altesaam 2,4-miljoen oornagbesoekers verwelkom, wat 24,5 miljard rand regstreeks in die ekonomie bestee en meer as 106-duisend werksgeleenthede ondersteun het. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê hulle wil Kaapstad se skoonheid vier in September, wat Toerismemaand is:
# Die vyfde FAME Week Africa het gister amptelik in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum afgeskop. Die geleentheid het tydens Covid-19 nederig begin met drie-duisend afgevaardigdes en het sedertdien gegroei tot byna sewe-duisend vanjaar. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die metro het vanjaar saamgewerk met studente van AFDA, die Animasie-skool, Rolprentskool Afrika, die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie, die Universiteit van Kaapstad en die SAE-instituut, wie se rolprente in die opwip-teater vertoon word.
# Die Universiteit van Pretoria gaan dié week 169 doktorsgrade toeken tydens sy Lente-gradeplegtigheid op die Hillcrest-kampus. Meer as twee-duisend-100 studente sal grade ontvang. Benewens die doktorale gegradueerdes, sal 494 meestersgrade, 460 honneursgrade, 392 nagraadse diplomas, 355 BA-grade en 237 gevorderde diplomas en sertifikate toegeken word. Die kanselier, regter Sisi Khampepe, sê graduerings is ‘n bewys van Tuks se lang tradisie van akademiese uitnemendheid.
# En, die afgelope paar maande het meer as een-duisend-100 jongmense van reg oor Suid-Afrika deelgeneem aan die Hear Me Out– en die Keready to Ringa-kreatiewe kompetisie. Dit was deel van die nasionale Hold My Hand-veldtog ter ondersteuning van die nasionale strategie om optrede vir kinders te versnel. Deelnemers kon hul gedagtes oor onderwerpe soos liefde, geestesgesondheid, respek, die digitale lewe en veiligheid uitdruk in briewe, gedigte, video’s, liedjies en tekeninge. Hold My Hand se woordvoerder, Lebo Motshegoa, sê die kompetisies gee jongmense die geleentheid om vryelik te praat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….