Goeie Nuus
BULLETIN 1 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# MultiChoice wys weer talle van Leon Schuster se klassieke flieks op DStv en Showmax nadat dit vyf jaar lank verbied is weens rasse-kommer. Flieks soos Sweet-and-Short, There’s a Zulu on My Stoep en You Must Be Joking is terug as deel van ‘n spesiale versameling. MultiChoice was onder vele wat hulle inhoud hersien het na die opkoms van die Black Lives Matter-beweging in Amerika in 2020. Die betaal-kanaal sê hy sal voortgaan om inhoud te oorweeg en seker te maak dit voldoen aan regulasies.
# FAME Week Africa vind hierdie week in Kaapstad plaas, waar Afrika se kreatiewe bedrywe saamtrek om skouers te skuur, saam te werk en fees te vier. Die Hollywood-aktrise Sheila Cannon van Shonda Rhimes se Netflix-treffer The Residence, is die hoofspreker. Sy is ook die medestigter van Abundant Life University, waar sy aspirant-akteurs, kunstenaars en leiers help om hulself te laat geld. FAME Week Africa bied ook uitstallings, kortflieks, musiek en die jongste modes.
# Zach Cregger se raaisel-gruwelfliek Weapons met Julia Garner en Josh Brolin in die hoofrolle, is die vierde naweek agtereenvolgens die voorloper by die loket in Noord-Amerika. Die 50ste herdenkings-heruitreiking van Steven Spielberg se Jaws is tweede, met Sony se Caught Stealing met Austin Butler en Zoe Kravitz nou derde. Die Disney-komedie Freakier Friday het sy vierde plek behou, terwyl The Roses van Searchlight oor ‘n oënskynlik perfekte paartjie, gespeel deur Benedict Cumberbatch en Olivia Colman, sy buiging in die vyfde plek gemaak het.
# Wes-Kaapse skole en distrikte het uitgeblink op die Nasionale Toekennings vir Uitnemendheid in Onderwys in die Sandton-konvensiesentrum in Johannesburg. Die Hoër Meisieskool Bloemhof het die tweede jaar die Top-presterende Openbare Gewone Skool in Kwintiel 5 gewen, met die Rynse Hoër Meisieskool en Rustenburg Girls’ High in die tweede en derde plek. Vredendal Noord Primêr en Bridgton Sekondêr het gewen vir geriewe en en Kaapse Wynlande was eerste in Wiskunde, Fisiese Wetenskap en Rekeningkunde. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, het hulle vir uitnemendheid geprys:
# En, ʼn student aan die Universiteit van die Vrystaat, Sambulo Maphumulo, gaan sy akademiese loopbaan in Europa voortsit. Die derdejaarstudent in BA Geïntegreerde Organisatoriese Kommunikasie het die gesogte Stipendium Hungaricum-beurs ontvang. Die beurs is ʼn projek van die Hongaarse regering in samewerking met Suid-Afrika se Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. Dit verskaf volle finansiële ondersteuning aan Suid-Afrikaners om in Hongarye te studeer. Maphumulo sê hierdie prestasie is nie net ʼn akademiese geleentheid nie, maar ook ʼn persoonlike triomf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….