Goeie Nuus
BULLETIN 29 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Black Motion loop voor met benoemings vir vanjaar se Suid-Afrikaanse Musiek-toekennings. Hulle het vier benoemings gekry, insluitend beste dansalbum vir The Cradle Of Art en beste vervaardigde album. Die Amapiano- treffermaker Kelvin Momo, die Afro-soul sanger Sjava en die kletsrymer Blxckier het elk twee benoemings gekry. Benoemdes vir die vyf gesogte afdelings, naamlik album van die jaar, beste nuweling, beste manlike kunstenaar, beste vroulike kunstenaar en beste duo of groep sal volgende maand aangekondig word. Die toekenningsgeleentheid sal in November gehou word.
# Die Gautrein, in vennootskap met PRASA, gaan laatnagtreine vir ondersteuners instel wat vanaand die Scorpion Kings Live with Friends-konsert by op Loftus Versfeld in Pretoria bywoon. Pendelaars kan met die Gautrein na die Pretoria-stasie reis en naatloos oorskakel na PRASA-treine wat regstreeks na die stadion loop. Retoerdienste sal tussen Hatfield- en Park-stasie bedryf word, uitgesluit Rhodesfield en OR Tambo. Gautrein se uitvoerende hoof, Tshepo Kgobe, sê die aanbod verseker veilige, doeltreffende vervoer terwyl dit verkeersopeenhopings verminder.
Nog musieknuus:
# Die popster Ariana Grande begin in Junie volgende jaar haar eerste toer in sewe jaar. Die Eternal Sunshine-toer is vernoem na haar laaste album, wat in Maart verlede jaar uitgekom het. Sy sal in Los Angeles, Atlanta, Chicago, Montreal en nog Noord-Amerikaanse stede optree voordat sy in Augustus met vyf vertonings in die O2-arena in Londen afsluit. Die Eternal Sunshine-album was drie weke lank bo-aan die Billboard 200 en het twee nommer-een enkelsnitte opgelewer.
Nou ander nuus:
# Colin Mkosi van Langa in Kaapstad is die algehele wenner van die 2025 Standard Bank Kasi SME National Pitch Challenge. Mkosi het 200-duisend-rand gewen vir sy onderneming, Cloudy Deliveries, wat aflewerings per fiets by plaaslike restaurante, supermarkte en ander winkels doen. Die naaswenner is Sibongile Mongadi van Gauteng met Uku Hamba, gevolg deur Lusapho Njine van die Wes-Kaap met Keiskamma Hygiene Services. Naledzani Mosomane van Standard Bank sê hulle is baie trots op al die deelnemers:
# En laastens, Boetevrye-week begin binnekort in Kaapstad wanneer leners weer die kans kry om uitstaande biblioteek-items terug te bring sonder om ‘n boete te betaal. Gedurende die vorige twee kwykskeldingstye is meer as 1,3-miljoen-rand se items terugbesorg. Die week duur van Maandag tot volgende Saterdag. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê letterkunde is belangrik omdat dit waardigheid en menseregte bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….