Goeie Nuus
BULLETIN 28 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die gevierde Suid-Afrikaanse akteur, regisseur en draaiboekskrywer, John Kani, is nou ‘n lid van die toonaangewende Academy of Motion Picture Arts and Sciences se stemliggaam. Hierdie eksklusiewe groep kies elke jaar die Oscar-wenners. Kani en die fliekvervaardiger Anant Singh is die enigste Suid-Afrikaners wat tans lede van dié elitegroep is. Kani, wat wêreldwyd bekend is vir sy rolle in Black Panther en Mufasa van Disney, sê hy sal die instelling met eerlikheid en integriteit dien.
# Kaapstad Toerisme het kunsmatige intelligensie in sy toerisme-sentrum bekendgestel. Die sentrum wil onder meer saamwerk aan praktiese KI-oplossings om uitdagings in die toerismebedryf teen te werk en strategiese maniere skep om KI vir bemarking, veiligheid van besoekers, volhoubaarheid en doeltreffendheid te gebruik. Kaapstad Toerisme se uitvoerende hoof, Enver Duminy, sê hierdie sentrum sal seker maak KI skep beter ervarings vir besoekers aan die metro:
# Distance For Difference vier sy 20ste jaar van verandering in die lewe van kinders en het al 13-miljoen-rand vir 60 liefdadigheidsorganisasies in Suid-Afrika ingesamel. Om die geleentheid te vier, bied die organisasie sonder winsbejag in September en Oktober twee opwindende geleenthede in die Boland aan. Die eerste is die GRATITUDE-wedloop op Erfenisdag, 24 September, by Dornier-wyne in Stellenbosch. In Oktober word die legendariese THE500-uitdaging in Somerset-Wes gehou waar fietsryers gaan probeer om binne 24-uur 500-kilometer af te lê.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Meisies in Tegnologie-bemagtigingsprogram skep geleenthede vir jong vroue in inligtings- en kommunikasie-tegnologie. Die program bied mentorskap, praktiese blootstelling aan leidende tegnologie en geleenthede om met gevestigde beroepslui in inligting- en kommunikasie-tegnologie saam te werk. Dit stroomlyn ander nodige vaardighede soos spanwerk, kommunikasie en probleemoplossing wat verseker die studente is goed afgerond en reg vir die bedryf. Thembeka Manetje van TUT sê die inklusiewe platform laat jong vroue toe om te leer en met selfvertroue sukses in tegnologie na te streef.
# En op ‘n smaaklike noot: Die Nederlandse kaasmaak-kenner Eline van der Velde het studente aan die Universiteit van die Vrystaat ʼn unieke smakie van praktiese leer gegee. Sy het twee weke op die universiteit se proefplaas, Paradys, deurgebring en studente en personeel gewys hoe om die instelling se suiwelverwerkings-afdeling te versterk. Studente het geleer hoe om gekrummelde, halloumi-, feta-, mozzarella en maaskaas te maak terwyl hulle proefnemings doen met geure soos knoffel en oreganum, en brandrissies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….