Goeie Nuus
BULLETIN 17 April
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Suid-Afrika het ‘n eredoktorsgraad in Filosofie in Wiskunde aan die bekende Ndebele-kunstenaar, Esther Mahlangu, toegeken. Sy is vereer tydens ʼn gradeplegtigheid op die universiteit se Muckleneuk-kampus in Pretoria. Mahlangu het geen akademiese kwalifikasies nie, maar is bekend vir haar groot, moderne skilderye wat haar Ndebele-erfenis uitbeeld. Unisa sê sy is ʼn merkwaardige voorbeeld van hoe kuns grense kan laat vervaag en mense van verskillende kulture kan verenig.
# Die 19-jarige Owami Ngqono gaan die jongste gegradueerde word op die Universiteit van Fort Hare se herfs-gradeplegtigheid. Sy kry volgende week ‘n BA-Landbougraad in Ekonomie. Sy was 16 toe sy by die universiteit aangekom het nadat sy matriek geslaag het by die Lamplough High School, met onderskeidings in Landbouwetenskap, Wiskundige Geletterdheid en isiXhosa. Owami, wat in Junie 20 word, sê sy is vasberade om selfs meer te bereik.
# Die rolprentbedryf in die Wes-Kaapse Tuinroete ervaar ‘n aansienlike oplewing met nuwe geleenthede vir die jeug van voorheen-benadeelde gemeenskappe. ‘n Vaardigheidsontwikkelingsprogram is van stapel gestuur om toegang tot die bedryf te gee met die eerste fase wat op video-redigering fokus. Die Nasionale Rolprent- en Video-stigting beoog om plaaslike talent toe te rus om noodsaaklike geleenthede in die rolprentbedryf te skep. Fase twee sal internskapsgeleenthede in rolprentvervaardiging insluit.
# ‘n Nuwe dokumentêre reeks, Vrystaatbewoners, werp lig op die Vrystaat se minder bekende aantreklikhede en sy lewenslustige inwoners. Die reeks wat deur kykNET en Brightrock vervaardig is, word deur die reeks se regisseur, Ian Martin beskryf as ‘n ontdekkingsreis vol empatie. Elke episode bring hulde aan die vindingrykheid van inwoners wat die essensie van lewe in ‘n stad, die sjarme van klein dorpies en vreedsame plaasgebiede vasvang. Martin hoop die reeks sal kykers aanspoor om die hartland van Suid-Afrika te verken.
# En, ʼn baanbrekende geskiedenisboek oor die Beatles, All You Need Is Love, is ʼn week na sy bekendstelling nommer twee op Amazon se musiekboeklys. Die hardebandboek van 352 bladsye is in vraag-en-antwoordformaat geskryf en orkeslede, vriende en familie vertel stories wat nie voorheen gepubliseer is nie. Al die onderhoude in die boek, geskryf deur Peter Brown en Steven Gaines, is tussen 1980 en 1981 gevoer. Intussen gaan Disney Plus op die agste van volgende maand die 1970-Beatles-fliek, Let It Be, op sy platform plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….