Goeie Nuus
BULLETIN 25 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Sportnuus: Die swemmer Tatjana Smith, wat vier Olimpiese medaljes ingepalm het, is op die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings as Sportvrou en Sportster van die Jaar aangewys. Sy het uitgetree ná verlede jaar se Spele in Parys. Die fietsryer Alan Hatherly is Sportman van die Jaar, en Simoné Kruger en Mpumelelo Mhlongo Sportvrou en Sportman van die Jaar met gestremdhede. Die vier-maal-100-meter mans-aflosspan is Span van die Jaar danksy hul silwermedalje in Parys. Smith sê dit was spesiaal om die land te verteenwoordig:
# Die 2025 Chenin Blanc-uitdaging se toptien-wenners is aangekondig en word later vanjaar op ProWine Shanghai in China vertoon. Stellenbosch oorheers weer en spog met vier van die tien inskrywings. Boonop is drie van die vier van Stellenrust Wines, wat die gereeldste wenners in die kompetisie is. Standard Bank, wat die kompetisie borg, se hoof van landbou-sake, Brendan Jacobs, sê 80-persent van alle chenin-wingerde in die wêreld is in Suid-Afrika en Frankryk:
# Die Stad Kaapstad het sy jongste publikasie oor die Moederstad se uitvoerende kuns- en kultuurtoneel bekendgestel. Die brosjure bevat inligting oor teaters, kunsgalerye en klassieke musiek-aanbiedings om die stad se kleurvolle kultuurlandskap te beklemtoon. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die publikasie spruit uit die stad se bevindings dat reisigers toenemend bestemmings wil besoek waar hulle Kaapstad se kenmerkende karakter kan ervaar:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê een-duisend-355 onderwysers van Graad 4 en 7 is ingeskryf vir die geakkrediteerde Back-On-Track-opleidingsprogram. Onderwysers ontvang elke tien dae intensiewe opleiding en verdien tot 40 punte van die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders. Die LUR sê die program, wat ook op 15-duisend-450 leerders van 223 skole gemik is, help om leergapings te oorbrug:
# En Gauteng se Departement van Gesondheid sê ‘n toegewyde verpleegkundige van die Ekurhuleni-distriksgesondheidsdiens se Ou Kliniek in Tsakani, Tebogo Molefe, het deur geslag-stereotipes gebreek en respek verdien in ‘n rol wat slegs mans tradisioneel vervul het. Molefe is een van min vroue wat vrywillige mediese besnydings op mans doen. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê Molefe doen dit reeds meer as 15-jaar:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….