Goeie Nuus
BULLETIN 22 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Nuwe boek plaas vroulike entrepreneurs in die hart van Suid-Afrika se sakeverhaal. Her Story, Her Success vertel van die kragtige reise van vroue wat struikelblokke in geleenthede verander het. Die samesteller is die stigter van WomX Women in Business, Jayshree Naidoo, en die versameling laat val die kollig op veerkragtigheid, vernuwing en die werklike uitwerking wat sakeondernemings in vroue se besit het. Naidoo sê die boek wil die volgende geslag entrepreneurs inspireer en die erflating van vroue in die sakewêreld vaslê:
# Standard Bank se data toon dat vroue toenemend huise en voertuie koop terwyl hulle sterker kredietprofiele as mans handhaaf. Ten spyte hiervan gebruik mans die bank se funksie vir krediettellings meer gereeld. Shené Mothilal van Standard Bank sê vroue se laer kredietsaldo’s dra by tot hul hoër tellings. Slegs 42-persent van gebruikers van hierdie funksie is egter vroue. Die Bank moedig vroue aan om die voordeel te benut vir beter rentekoerse en finansiële geleenthede.
# Die Vrou van Statuur-toekennings wag benoemings in vir sy 2026-seisoen en nooi vroulike entrepreneurs en diegene wat verandering bring in alle nywerhede en gemeenskappe, om in te skryf of benoem te word. Die toekennings vereer vroue wat ekonomiese groei aanhelp, werk skep en gemeenskappe verander. Benoemdes sal eers in streeksafdelings meeding en die wenner uit elke streek sal dan landwyd in hul onderskeie afdelings meeding. Ten minste 800 benoemings word uit die hele land verwag.
# Die eThekwini-munisipaliteit sê die 14de Durbanse Modeskou beloof om ‘n opwindende vertoning van talentvolle modeontwerpers en modelle te wees. Die kern van hierdie projek is die Klas van 2025 se modelopleiding en oefenkamp wat tans in volle swang is. Die huidige klas bestaan uit 14 vroue- en tien mansmodelle. Deelnemer Mandisa Khuboni sê sy is opgewonde om met haar talent te spog in die skou se loopplank-vertonings:
# En ten slotte: Verlede jaar se wenner van die FNB-kunsprys, Gresham Tapiwa Nyaude, se solo-uitstalling, Sugar Coats, open môre in die Johannesburgse Kunsgalery. Die uitstalling is deel van die prys. Hy ondersoek sy Zimbabwiese identiteit en die ingewikkeldheid van ʼn lewe in Afrika deur kuns. Hy gebruik simbole, ikonografie en speelse verwysings na politieke weerstand om in die menslike toestand te delf terwyl hy met maatskaplik-politiese kwessies omgaan. Nyaude sê sy toewyding aan sy werk as kunstenaar en spesifiek as skilder, is ʼn verbintenis tot groei en verandering.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….