Goeie Nuus
BULLETIN 21 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die kleinhandelreus Checkers het ‘n nuwe slim inkopie-waentjie bekendgestel waarmee kopers hulle kruideniersware regstreeks kan skandeer en betaal sonder om by tradisionele betaalpunte te wag. Die vernuwing, wat tans getoets word, sal wagtye verkort en meer gerieflik wees. Klante kan kaarte of digitale beursies gebruik deur middel van die waentjies se ingeboude stelsel. Checkers sê die stap weerspieël sy verbintenis tot die gebruik van tegnologie en die verandering van die koopervaring vir Suid-Afrikaanse verbruikers.
# Die regering het die bekende uitvoerende vervaardiger van radio en TV, Mpho Lakaje, geluk gewens nadat hy aangewys is as die Suid-Afrikaanse wenner in die radiokategorie op die Suider-Afrika-ontwikkelingsgemeenskap se mediatoekennings in Madagaskar. Hy het gewen met sy inskrywing getiteld: “Moet droogtegeteisterde Afrikalande hul tot natuurlewe wend vir voedsel” ? Die inskrywing plaas die kollig op die verslegtende droogtesituasie in die SAOG-streek. ‘n Regeringswoordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê Lakaje se storievertelling versterk Afrika-stemme en oorbrug kulturele gapings:
# Die Ekurhuleni-streekskou van die Eskom-ekspo vir Jong Wetenskaplikes het altesaam 16 goue, 32 silwer en 47 brons medaljes opgelewer. Daar was 130 projekte wat deur 174 jong wetenskaplikes in Graad 4 tot 12 en Tegniese en Beroepsonderwys en -opleidingstudente ten toon gestel is. Die prys vir beste vernuwingsprojek het gegaan aan Itumeleng Chiloane van Tuka Curious Minds STEM Club. Eskom-ekspo se uitvoerende direkteur, Parthy Chetty, sê die skou vorm ‘n belangrike deel van Suid-Afrika se breër strategie om in vaardigheidsontwikkeling te belê.
# Die Stad Kaapstad het die Bishop Lavis-sportterrein van 27-miljoen-rand voltooi. Die opgradering is in fases oor drie jaar afgehandel. ‘n Nuwe sintetiese sokkerveld en ‘n gesinspark is onlangs voltooi as deel van die finale fase van die opgradering. Die sportterrein sluit ‘n atletiekbaan, ‘n krieketveld met nuwe gras en nuwe heinings in. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die opgradering is ‘n skitterende voorbeeld van die uitwerking van Kaapstad se rekordbeleggings in infrastruktuur, waarvan 75-persent regstreeks laer-inkomstehuishoudings en -gemeenskappe bevoordeel.
# En ten slotte: Brad Balie en Boipele Awuah van Kimberley maak geskiedenis as die enigste skaatsplankryers van Afrika wat genooi is om aan Rusland se Grand Skate-toer in Moskou deel te neem. Die twee gaan hulle vaardighede in die straat-skaatsplankkategorie ten toon stel wat bekend is vir sy gewaagde toertjies en tegniese presisie. Hulle word ondersteun deur die Kimberley Diamond Cup-program en hulle deelname is ‘n toonbeeld van die sport se groei in die land. Die toer eindig Sondag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….