Goeie Nuus
BULLETIN 18 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Kaapstad se Silwerskermfees keer hierdie week na Kampsbaai terug met ‘n uitstekende versameling van Suid-Afrikaanse en Afrikaanse rolprente. Daar is 33 rolprente en dokumentêre prente van verskillende lengtes wat die uiteenlopende werk van reeds bekende rolprentmakers en opkomende talent sal toon. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê saam met die rolprentvertonings bied Silwerskerm ook ‘n omvangryke program van paneelbesprekings en meesterklasse aan in samewerking met kenners in die bedryf en rolprentmakers:
# Twee studente van die Universiteit van KwaZulu-Natal het gesogte nasionale toekennings van die Geologie-vereniging van Suid-Afrika ontvang. Dis ter erkenning van hul akademiese uitnemendheid en buitengewone bydraes tot geologiese navorsing. ‘n Mariene-geoloog en MSc-gegradueerde, Tamera Heeralal, het die 2025 John Handley-toekenning vir die beste MSc-tesis in Geologie aan ‘n Suid-Afrikaanse universiteit ontvang. ‘n Huidige MSc-kandidaat, Ishta Maharaj, het die Suid-Afrikaanse Raad van Natuurwetenskaplike Beroepe-toekenning vir haar buitengewone akademiese prestasie in 2024 ontvang.
# Die Tsitsikamma-afdeling van die Tuinroete Nasionale Park het ‘n skenking aan die Laerskool Krakeel gemaak. Dit sluit in 100 paar skoolskoene en sokkies, 100 hemde en broeke en 36 pakkies sanitêre doekies. Die projek volg na ʼn skenking van 200 paar skoolskoene in die Tsitsikamma-gebied verlede jaar as deel van die park se Terug Skool Toe-program. Die skenking is moontlik gemaak deur die ondersteuning van MPM Enviro Enterprise.
# Meer as 260 aandenkings van die bekroonde Britse reeks Downton Abbey gaan opgeveil word. Dit sluit in van die Grantham-familie se motor tot die trourok wat Michelle Dockery as Lady Mary vir haar eerste troue met Matthew Crawley gedra het, en die ikoniese Downton Abbey-klokkemuur. Die reeks se uitvoerende vervaardiger, Gareth Neame, sê hierdie ikoniese items is vir kykers baie spesiaal. Die opbrengs van die veiling is ten bate van ‘n liefdadigheidsorganisasie wat kinders met beperkte lewensomstandighede en hul ouers ondersteun, Together for Short Lives.
# En Zach Cregger se geheimsinnige gruwelrolprent Weapons bly steeds die topverkoper in Amerika in die tweede naweek van vrystelling. Die prent met sy R-ouderdomsbeperking, is die vyfde opeenvolgende treffer vir Warner Brothers vanjaar. In die tweede plek is Disney se Freakier Friday, waarin Jamie Lee Curtis en Lindsay Lohan weer saam te sien is. Die naweek se enigste nuwe rolprent is Universal se riller Nobody 2 wat in die derde plek geland het. Nog ‘n rolprent van Disney, die Marvel superhelde-avontuur, The Fantastic Four: First Steps, het na die vierde posisie afgeskuif met DreamWorks Animation se The Bad Guys 2 in die vyfde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….