Goeie Nuus
BULLETIN 13 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# SANParke sê sy jaarlikse Nasionale Parkeweek is ‘n suksesvolle veldtog wat opvoeding en bewustheid oor die land se inklusiewe benadering tot bewaring verskaf. SANParke gaan volgende maand weer gratis toegang tot die meeste van sy 21 nasionale parke bied. Dit gaan ook gebruik word om ‘n gevoel van trots in die land se natuur-, kultuur- en geskiedenis-erfenis te kweek wat deur die nasionale parkestelsel beskerm en bewaar word.
# Twee jong boere en vennote, Willem van der Merwe en Francois Du Toit, asook Tiaan Barkhuizen is as finaliste gekies vir TLU SA se kompetisie vir Jong Boer van die Jaar. Die kompetisie word reeds die afgelope 24 jaar aangebied en vier jong landbouleiers. Van der Merwe en Du Toit van Chrissiesmeer, Mpumalanga is gewasboere wat die verantwoordelikheid vir bemarking, beplanning, finansies, onderhoud, toetse en sekerheid deel. Barkhuizen van Garies in die Noord-Kaap boer kommersieel met boerbokke en skape. Die wenner word volgende maand aangekondig.
# ‘n Dosent in Beeldende Kunste aan die Universiteit van Fort Hare, Natasha Bezuidenhout, is aangewys as een van die top vyf finaliste vir die 2025 Bag Factory Artists’ Commission. Die Bag Factory is ‘n eietydse, visuele kunsorganisasie sonder winsbejag in Johannesburg. Kunstenaars is gevra om werk te skep wat ateljeeruimtes herverbeel as samewerkende, volhoubare en gemeenskapsgesentreerde omgewings. Bezuidenhout se voorstel behels die skepping van grootskaalse keramiekteëls, geïnspireer deur die natuur. Sy sê dit is ‘n geleentheid om te besin oor hoe mense op aandagtige maniere met hul onmiddellike omgewing kan omgaan.
# Die Walter Sisulu Universiteit in die Oos-Kaap het sy Toastmasters-klub bekendgestel, ‘n belangrike mylpaal in sy verbintenis tot die lewering van selfversekerde, welsprekende gegradueerdes wat loopbaangereed is. Toastmasters is ‘n internasionale program wat ontwerp is om mense te help om hul openbare redevoering, kommunikasie- en leierskapsvaardighede deur oefening en terugvoer te verbeter. Khanyisa Mbali van die universiteit sê dit is baie belangrik om bemagtigende programme te hê wat lewenslange leer- en leierskapservarings bied wat studente ‘n mededingende voordeel in die werksomgewing gee.
# En die Universiteit van Pretoria het in Julie 620-duisend-rand ingesamel as deel van sy eerste Giving Month-veldtog. Verskeie organisasies soos die plaaslike Bulle- en die Bulle Daisies-rugbyspan het bydraes gelewer. Die universiteit se projek het ‘n hoogtepunt bereik met ʼn kospakkieprojek op die Hatfield-kampus, waar honderde vrywilligers meer as twee-duisend nie-bederfbare voedselprodukte geskenk het. Die visekanselier en hoof, Francis Petersen, sê dis die ingesteldheid agter die geskenk wat en nie die grootte nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….