Goeie Nuus
BULLETIN 12 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# FNB het die Nasionale Finansiële Ombud van Suid-Afrika se toekenning vir uitnemendheid vir vanjaar ontvang. Dis om erkenning te gee aan sy verbintenis tot die regverdige behandeling van kliënte en uitnemende probleemoplossing. Die bank het die hoogste gemiddelde telling onder Suid-Afrika se grootste banke gekry vir gehalte van reaksie, reaksietyd en regverdigheid. FNB se uitvoerende hoof, Harry Kellan, sê hulle hou by die beginsels wat op deursigtigheid, vertroue, respek en aanspreeklikheid gegrond is.
# Twee studente van die Walter Sisulu-universiteit het 25-duisend-rand ontvang nadat hulle as een van die top 15 finaliste in die MTN ENACTUS-digitale vernuwingsuitdaging gekwalifiseer het. ‘n IT-gegradueerde, Philasande Mathafeni, en sy sakevennoot, ‘n derdejaar-student in Menslike Hulpbronbestuur, Thulisiwe Matyobeni, het ‘n billike handel netwerkmarkplatform geskep. Die selfoontoepassing help kleinboere om toegang te kry tot bevestigde, veilige en digitale markplatforms wat billik geprys is. Die twee ding nou mee vir ‘n plek onder die top tien.
# Die 14-malige Grammy-wenner, Taylor Swift, het bewonderaars verras met die nuus dat sy haar 12de ateljee-album, The Life of a Showgirl, gaan vrystel. Die 35-jarige sangeres het in April verlede jaar ‘n ateljee-album, The Tortured Poets Department, vrygestel wat die beste verkoper van die jaar was. Sy het haar Eras-toer wat rekords laat spat het, in Desember afgesluit. Die nuwe album is Swift se eerste vrystelling sedert sy in Mei die trotse eienaar van haar hele musiek-katalogus geword het.
# Die hertog en hertogin van Sussex het hul vennootskap met Netflix verleng. Prins Harry en Meghan Markle het in 2020 ‘n ooreenkoms met die aanlyn vermaakdiens deur hul produksiemaatskappy, Archewell, gesluit. Die paartjie het sedertdien saamgewerk aan projekte soos Polo, Harry and Meghan, Heart of Invictus en Live to Lead. Markle het onlangs haar leefstylreeks With Love, Meghan, bekendgestel. Netflix se Inhoudshoof, Bela Bajaria, sê Harry en Meghan is invloedryke stemme wat oral by gehore byval vind.
# En ten slotte: Die sokker-superster Cristiano Ronaldo het sy jarelange lewensmaat, Georgina Rodríguez, met ‘n skitterende diamantring gevra om te trou, en ondersteuners bespiegel oor die prys daarvan wat miljoene kan wees. Die 40-jarige voorspeler van Al-Nassr het die groot vraag gevra tydens ‘n romantiese wegbreek, agt jaar nadat die paartjie bekendgemaak het hulle is in ‘n verhouding. Hulle het in 2016 ontmoet en het vyf kinders. Hul verlowing het wêreldwyd aandag getrek en romanse sowel as die sokker-ikoon se kenmerkende styl op en van die veld ten toon gestel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….