Goeie Nuus
BULLETIN 16 April
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit Stellenbosch sê ‘n groep mediese studente is besig om ʼn spesialis-hoësorgeenheid vir orgaanskenkers by die Tygerberg-hospitaal te vestig. Die studente is deel van Save7, ʼn student-geleide organisasie sonder winsbejag wat op bewustheid oor orgaanskenkings fokus. Anique Botha van Save7 sê Life Pod is ʼn eerste in Afrika. Sy sê dit wil lewensondersteuning aan instemmende orgaanskenkers bied om hul organe lewensvatbaar te hou totdat dit oorgeplant kan word:
# Byna ‘n miljoen rand is reeds beloof nog voordat die Sweefspoor-welsynsuitdaging Saterdag in Kaapstad plaasvind. Bergklimmers wat verandering wil meebring, glanspersoonlikhede en amateurs klim jaarliks teen Tafelberg uit om ‘n verskil te maak vir liefdadigheidsorganisasies wat belangrike werk in plaaslike gemeenskappe doen. Deelnemers sal Saterdag die taak hê om soveel moontlike togte teen Platteklip-rafyn te onderneem as wat hulle kan baasraak. Liefdadigheidsorganisasies wat daarby sal baat vind, sluit in Wildernis-soek-en -redding en die Vrywilliger-veldbranddiens.
# ‘n Program vir die ondersteuning van ‘n naskoolse program in Johannesburg se middestad, Safe Study, het hulp in die vorm van ‘n sonkragstelsel van ‘n plaaslike maatskappy ontvang. Versofy SOLAR het die stelsel vir die organisasie se sentrum in Bez Valley geskenk. Dit bevorder nie net leer nie, maar verleen noodsaaklike dienste soos krag, verhitting en wifi wat benadeelde jongmense baie help. Safe Study se medestigter, Nicola Bennett, is dankbaar vir die omwenteling wat die skenking meegebring het en sê dit bevorder toegang tot onderrig en het hul finansiële las verlig.
# Twee dosente aan die Noordwes-universiteit, Viné Petzer en Nokwanda Bam, is aanvaar vir die program vir die Bevordering van Onderrig by Universiteite. Die program wat 12 maande duur, wil onderrig-standaarde verbeter en dit in openbare hoër onderwys bevorder. Die universiteit sê deelnemers werk tydens die program aan opvoedkundige projekte waar hulle geleentheid kry om vennootskappe met kollegas van ander instellings te bou. Bam sê die program sal haar help om ʼn betekenisvolle bydrae te lewer vir onderrig en leer op universiteitsvlak.
# En, nog ‘n ietermagog is gered ná ‘n uitlok-operasie in Silver Lakes, Pretoria. Dié operasie, waarby die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling, en Transfrontier Africa betrokke was, het gelei tot die arrestasie van vier verdagtes. Die diertjie, genaamd Sebastian, is na die Johannesburgse Natuurlewe Veeartsenyhospitaal geneem vir behandeling. Hy was aanvanklik ontwater en swak maar toon nou tekens van verbetering. Verlede week is ‘n dragtige ietermagog ook gered. Ietermagô’s word hoofsaaklik vir hul skubbe gestroop om in tradisionele medisyne gebruik te word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….