Goeie Nuus
BULLETIN 7 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die negentigjarige Caspar Greeff het sy BCom-graad in Rekeningkunde aan die Universiteit van Johannesburg verwerf. Greeff, wat eers ‘n aktuaris was, het aanlyn studeer en die tegnologiese uitdagings met behulp van dosente en sy dogter oorbrug. Hy is nou ‘n simbool van deursettingsvermoë en bewys dit is nooit te laat om te leer nie. UJ sê sy prestasie beklemtoon die krag van inklusiewe akademiese geleenthede. Greeff sê dissipline en nuuskierigheid is op enige ouderdom die geheime tot sukses.
# ‘n Dosent aan die Universiteit van Fort Hare, Ntokozo Happy Msiza, is aangewys op Sunday World se jaarlikse lys van Onbesonge Helde in die Akademie en Onderwys. Die erkenning eer Suid-Afrikaners wat waardevolle bydraes in hul onderskeie vakrigtings maak. Msiza het ‘n geregistreerde raadgewende landboumaatskappy, PhahlaLwendlu Farming, gestig. Sy is ook ‘n kampvegter vir groter verteenwoordiging en geslagsgelykheid in wetenskap. Die universiteit sê Msiza se erkenning bevestig haar invloed as akademikus, vernuwer en entrepreneur om landbou te hervorm en vroue in wetenskap te inspireer.
# ‘n Doktorsgraad-student in Farmaseutiese Wetenskap aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Rethabile Moshoeshoe-Molapisane, word erken vir haar bydrae tot openbare gesondheidsbeleid en voetsoolvlak-voorspraak. TUT sê haar baanbreker-navorsing oor substandaard en nagemaakte medisyne beïnvloed nasionale gesondheidsregulasies. Haar werk aan ondersteuning vir outisme in township-gemeenskappe bring hoop en opvoeding vir gesinne. Moshoeshoe-Molapisane is onlangs benoem as ʼn finalis in die Ideal Positive Impact Leader-kategorie in die komende Young Leaders Connect en is gekies as een van die 31 Vroue van Invloed in 2025.
# Aansoeke het geopen vir saamgestelde programme vir die 52ste Nasionale Kunstefees in Makhanda in die Oos-Kaap vir volgende jaar. Die programme bring van die land se opwindendste bekroonde talent byeen met globale werke en vernuwende werk in verskillende genres. Vanjaar se saamgestelde programme sluit Cape Ballet Africa se drieledige SALT, UK’s Action Hero se teaterstuk The Talent en Rehane Abrahams se nuwe werk The Fugue of Tjebolang in. Kunstenaars, vervaardigers en ander word versoek om teen 3 Oktober aansoek te doen.
# En ten slotte: MasterChef is terug op TV-skerms met ‘n nuwe reeks wat verfilm is voor die aanbieders, Gregg Wallace en John Torode, afgedank is weens bewerings teen hulle. Die BBC het besluit om steeds vanjaar die amateurreeks uit te saai, maar dit het kritiek ontlok by sommige wat sê slegte gedrag behoort nie met hooftyd-dekking beloon te word nie. Daar is minder grappe en minder geselsies tussen die aanbieders en die kosmakers. Een van die deelnemers is ook uitgeredigeer nadat hy gevra het dat die reeks nie uitgesaai word nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….