Goeie Nuus
BULLETIN 5 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die ikoniese Tafelberg-sweefspoormaatskappy het amptelik sy deure vir die publiek heropen na die jaarlikse instandhoudingswerk. Die uitvoerende direkteur, Selma Hercules, sê die jaarlikse sluiting stel hulle in staat om noodsaaklike opgraderingswerk te doen en seker te maak die sweefspoor word teen die hoogste moontlike standaarde bedryf. Sy sê die onderhoudswerk is daarop gemik om optimale veiligheid en bedryfsdoeltreffendheid te verseker. Die sweefspoormaatskappy het ‘n silwer medalje in die afvalbestuurskategorie gewen op die onlangse WTM Africa-toekennings vir verantwoordelike toerisme.
# Die Vryheidsfront Plus het sy raadslid in Ekurhuleni, Denise Janse van Rensburg, gelukgewens nadat sy die gesogte Liefdadigheidstitel op die Mevrou Statebond Suid-Afrika-kompetisie gewen het. Die kompetisie is ʼn bemagtigingsplatform vir getroude of geskeide vroue of weduwees tussen 20- en 55-jaar oud. Dit fokus op gemeenskapsdiens, persoonlike groei en inspirasie deur maatskaplike en liefdadigheidsprojekte. Jennifer Glover van die VF Plus sê Van Rensburg is ʼn waardige wenner:
# Die Stad Tshwane sê drie-duisend erwe sal toegewys en geregistreer word vir inwoners van die Marry Me-informele nedersetting in Soshanguve. Inwoners word ontmoedig om nuwe hutte buite die nedersetting se grense te bou omdat dit die formaliseringsproses sal vertraag. Die burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Aaron Maluleka, sê diegene wat kwalifiseer vir behuising sal in ʼn nuwe gebied, Kopanong, hervestig word waar huise opgerig sal word. Ander inwoners sal erwe kry.
# Ses kunstenaars se kunswerke is op die jongste uitstalling van die Javett-kunssentrum van die Universiteit van Pretoria te sien in ‘n tentoonstelling met die titel One and the Many. Die kunswerke wissel van ‘n groot rooi seil wat op die grond met soutpakke vasgehou word, en kleurvolle skilderye van die jongste sakeleier, Richard Maponya en sy vrou, tot ‘n goudkleurige beeldhouwerk wat met lug gevul is. Die universiteit sê die uitstalling vertel ‘n storie met kuns wat die karakters, die agtergrond, die komplot en die temas bevat.
# En ten slotte: Die kunsversameling van een van Europa se belangrikste versamelaars, Pauline Karpidas, word volgende maand opgeveil. Die versameling, Pauline Karpidas: The London Collection, word beskou as die waardevolste privaat versameling ooit in Europa en bevat kunswerke en meubels uit die 20ste eeu. ʼn Hoogtepunt onder die meer as 200 kunswerke en ontwerperstukke is René Magritte se La Statue volante, wat beskryf word as ʼn juweel van laat-surrealisme. Sotheby’s sê Karpidas se versameling is tekenend van ʼn lewe van skeppendheid, nuuskierigheid en blywende verhoudings met die kunstenaars en ontwerpers wat sy ondersteun het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….